'n Mosie waarin die VF Plus in Mpumalanga die provinsiale wetgewer vra om die skokkende toestand van Barberton se rioolsuiweringsaanleg te ondersoek, is Dinsdag tydens 'n sitting van die wetgewer sonder teenkanting aanvaar.
Die VF Plus het na klagtes van boere wat aangrensend aan die rioolsuiweringsaanleg boer, ‘n besoek aan die gebied gebring.
Daar is gevind dat riool vanuit die rioolsuiweringaanleg in ‘n sytak van die Suidkaaprivier gepomp word waar dit direk in plaasdamme vloei. Daar is ook dooie visse in die damme gevind.
Die rioolsuiweringsaanleg is sedert die begin van 2020 buite werking en hou nie net ‘n omgewingsgevaar in nie, maar ook ‘n gesondheidsgevaar vir mens en dier.
Die resultate van waterkwaliteitstoetse wat boere self laat uitvoer het, het aangedui dat die water nie geskik is vir menslike of dierlike gebruik nie.
Die Mbombela-plaaslike munisipaliteit waaronder Barberton val, het ook in 2020 duisende visse uit twee plaasdamme verwyder.
Die riool het verder ‘n verwoestende uitwerking op oeste op die plase gehad en boere wat ‘n jaarlikse afname in oesopbrengs ervaar sedert die rioolstorting begin het, neem die Mbombela-munisipaliteit hof toe vir ‘n beweerde verlies aan inkomste.
Die VF Plus sal Mpumalanga se LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake, mnr. Mandla Msibi, en die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mev. Busisiwe Shiba, verantwoordelik hou om ondersoek in te stel en om die munisipaliteit te verplig om regstellende stappe te neem soos in die aanvaarde mosie vereis word.