Dewetsdorp-inwoners word toenemend deur die Mangaung-metro-munisipaliteit se ongeërgdheid rakende stortingsterreine genoodsaak om vullis onwettig te stort.
Die Vrystaatse departement van kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake, het ‘n splinternuwe stortingsterrein teen sowat R8 miljoen in 2016 aangelê. Intussen is die geboue en splinternuwe stootskraper tot so ‘n mate onder die toesig van die metro geplunder, dat geen van hierdie bates meer gebruik kan word nie. (Sien foto’s).
Vullis word tans in die grysgroef oorkant die bestaande stortingsterreine gestort, aangesien dié twee terreine ontoeganklik vir inwoners is weens die enorme hoeveelhede vullis wat by albei ingange gestort en onbehandeld gelaat word.
Die VF Plus kan nie toekyk dat miljoene rand se belastingbetalersgeld so vermors word nie en sal amptelike vrae hieroor indien en ook ‘n brief rig aan die LUR van kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake, Makalo Mohale, om hom van die stand van dié projek onder die toesig van die metro in kennis te stel.
Die dorpe Dewetsdorp, Van Stadensrus en Wepener word afgeskeep deur die metro met betrekking tot dienslewering. Sedert die inlywing van dié dorpe by die Mangaung-metro trek inwoners geen voordeel nie en word bestaande infrastruktuur tot in die grond bestuur.
Onder die ANC-regering gaan die voorheen glorieryke plattelandse dorpe tot niet. Die VF Plus eis dat die betrokke munisipale amptenare tot verantwoording geroep word.
Navrae: 064 847 1560


