Die VF Plus verwelkom die skorsing van die munisipale bestuurder van die Ramotshere Moiloa-munisipaliteit (Groot Marico, Zeerust), Ditshaba Makhate, vir ‘n tydperk van drie maande.
Tydens ‘n spesiale raadsvergadering vandag, het die raad besluit om Makhate te skors hangende 'n ondersoek na sy prestasie en werksaamhede. Die ondersoek sal gedoen word deur 'n onafhanklike regsfirma.
Hierdie vergadering en besluit volg op ‘n versoek van die VF Plus op 30 Junie 2020 aan die speaker dat daar dringend ingegryp moet word in Makhate se skynbare onwilligheid om op raadslede se klagte te reageer, of om selfs met hulle te kommunikeer aangaande diensleweringskwessies.
Zeerust en Groot Marico gaan reeds lank gebuk onder verskeie ernstige munisipale probleme wat 'n groot negatiewe impak op inwoners en sakelui het.
Die VF Plus hoop dat hierdie stap vrugte sal afwerp en sal voorkom dat die dorpe verdere skade lei weens swak dienslewering deur die ANC-beheerde munisipaliteit.
Die VF Plus sal die situasie monitor en indien nodig verdere ingrypings doen in belang van die gemeenskap.
Navrae: 073 200 3309