Die VF Plus het vandag tydens ‘n spesiale sitting van die Noordwes-wetgewer buite stemming gebly met die verkiesing van ‘n nuwe speaker in die provinsie.
Die verkiesing volg op die bedanking van dr. Desbo Mohono uit diรฉ pos en haar aanstelling as die nuwe LUR vir onderwys verlede week.
Me. Viola Motsumi van die ANC is tydens die sitting met die steun van die ANC- en DA-lede in die wetgewer met ‘n groot meerderheid van stemme as die nuwe speaker verkies.
Die VF Plus sal voortgaan om die ANC-speaker verantwoordbaar te hou in haar grondwetlike verpligtinge om te verseker dat die wetgewer funksioneer as ‘n doeltreffende oorsigliggaam oor Noordwes se provinsiale regering.
Dit is wel kommerwekkend dat me. Motsumi reeds die derde speaker is wat sedert 2024 in Noordwes se wetgewer aangewys is. Dit lei tot ‘n gebrek aan kontinuรฏteit wat die werksaamhede van die wetgewer kan destabiliseer.
Hierdie groot omset van speakers in die provinsie dui op ‘n voortdurende verskuiwing van politieke lojaliteite in ANC-geledere in Noordwes wat tot nadeel is van doeltreffende regeringsoorsig en dienslewering.
Kiesers moet in die komende plaaslike verkiesing reeds met hul stemme ‘n duidelike boodskap uitstuur dat onstabiele ANC-administrasies op alle vlakke van regering nie langer geduld sal word nie.


