fbpx
Vryheidsfront Plus

Departement van samewerkende regering laat die mense van die Vrystaat in die steek

Die sake en bestuur van die Vrystaatse munisipaliteite is in ‘n jammerlike toestand terwyl die LUR vir samewerkende regering dink dat sy slegs ‘n seremoniële LUR is en geen politieke verantwoordelikheid vir haar departement hoef te aanvaar nie, het Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer in ‘n debat oor hierdie departement se begroting gesê.

Wessels het die bankrotskap van die Masilonyana-munisipaliteit (Theunissen, Brandfort, Winburg en Verkeerdevlei), die onvermoë van die Mafube-munisipaliteit (Frankfort, Villiers, Tweeling, Cornelia) om salarisse te betaal en die totale skuld van R4.6 miljard van al die Vrystaatse munisipaliteite aan Eskom as voorbeelde van die departement se onvermoë om ‘n effektiewe oorsigrol oor munisipaliteite te speel, genoem.

Voorts is die departementshoof, mnr. Mokete Duma, self onder skoot vir sy growwe wanbestuur as voormalige munisipale bestuurder van die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit (Kroonstad, Viljoenskroon, Steynsrus en Vierfontein) tot so ‘n mate dat hy strafregtelike klagte in die gesig staar.

Die departement se implementeringskoers van wetgewerresolusies is na ‘n jaar slegs 34% en sy oudituitkomste toon geen verbetering nie. Wessels meen dat dit dus nie verbasend is dat munisipaliteite in so ‘n krisis verkeer nie.

Met al hierdie uitdagings kies die departement om eerder onnodige veldtogte soos die “Ken jou raadslid”-veldtog en ‘n verbruikersopname te befonds.

Korrupsie en uitbuiting deur kontrakteurs en konsultante word deur die departement toegelaat. Die geweldige agterstand ten opsigte van die oordrag van titelaktes is ‘n voorbeeld hiervan. Hierdie uitbuiting en korrupsie geld ook ten opsigte van die oprigting van HOP-huise en steel by die mense van die Vrystaat.

Die provinsiale regering het ontaard in ‘n regering van luuksheid. Departementshoofde, LUR’e en burgemeesters ry rond in blouligbrigades en spandeer die provinsie se geld asof dit hul eie is. Hulle neem geen verantwoordelikheid vir die behoorlike bestuur van departemente of die provinsie as ‘n geheel nie.

Wessels het benadruk dat die provinsiale regering se begrotingsprioriteite ver tekort skiet en dat die werklike nood in die provinsie nie aangespreek word nie. Eskom- en waterskuld is meer as wat dit nog ooit was en steeds word geld gemors op onnodige en mislukte projekte.

“Hoe gaan die inwoners van die Vrystaat die premier se tydskrif lees as hulle in die donker sit?” het hy gevra.

 

Kontakbesonderhede: 082 674 6670 / 072 997 8315

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.