fbpx
Vryheidsfront Plus

Departement van maatskaplike ontwikkeling se taak is enorm, maar sy prioriteite verkeerd

(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir departement van maatskaplike ontwikkeling)

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het ‘n enorme taak op sy hande, soveel meer so tydens die Covid-19-pandemie. Tog is sy prioriteite verkeerd in soverre dit volhoubare maatskaplike ontwikkeling en opheffing aanbetref.

Dit is wel die mandaat van die departement om maatskaplike verligting te bring, maar dit is ook sy mandaat om gemeenskappe te ontwikkel om selfversorgend te raak. Laasgenoemde gebeur egter nie en hulpbehoewendes word al hoe meer afhanklik van staatstoelaes.

Veral kommerwekkend is die diepgewortelde en hardnekkige korrupsie in Sassa. Soos elders kan slegs ‘n paar vrot appels die mandjie besoedel.

Dit is verblydend dat daar steeds Sassa-personeellede is wat hul werk toegewyd doen en hier moet werknemers by die departement se hoofkantoor genoem word wat moeite gedoen het om mense in nood te help nadat die VF Plus om hulp aangeklop het.

Dit is nogtans onaanvaarbaar dat die situasie in die eerste plek ontstaan het. Die vrot appels, wat nie werklik omgee oor die welstand van die mees kwesbares in die gemeenskap nie, moet verwyder word.

Wat die spesiale noodtoelaag van R350 aanbetref, is die ongelykhede met die toekenning daarvan skokkend en hartseer. Baie mense wat daarvoor kwalifiseer en vir wie dit lewensnoodsaaklik is, is die toelaag geweier.

Veral hartseer is die verwagtinge wat geskep is met die aankondiging van die toelaag meer as 13 weke gelede. Die aansoekproses het byna elf weke gelede geopen. En steeds het sommige mense wat kwalifiseer, steeds geen uitbetaling ontvang nie.

Ewe kommerwekkend is die wyse waarop broodnodige fondse vir vroeë kinderontwikkeling (VKO) na elders gekanaliseer is. Dit is kortsigtig en riskant.
Om uitvoering te gee aan die departement se mandaat van volhoubare ontwikkeling moet VKO eerder as prioriteit beskou word. ‘n Kind wat in sy ontwikkelingsjare in die steek gelaat word deur die stelsel, sal misluk in die lewe, en word dan deel van die maatskaplike las.

Die VF Plus wil glo die departement het goeie bedoelings. Die pandemie is ‘n ongekende omverwerping van alle norme en dit gaan tyd neem om aan die nuwe normaal gewoond te raak.

Tog is daar te veel foute, te veel leemtes, te min wilskrag en te veel voorbeelde waar vorige en nuwe kwesbares in die steek gelaat word. Dit is grootliks te wyte aan verkeerde besluitneming oor prioriteite.

Navrae: 082 490 6663

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.