fbpx
Vryheidsfront Plus

Irrasionele regulasies en bakhand-kultuur vernietig Suid-Afrikaanse ekonomie

(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir handel, nywerheid en mededinging)

Die departement van handel, nywerheid en mededinging, se mandaat is om 'n diverse en wêreldwye mededingende ekonomie te skep deur industrialisasie wat gekenmerk word deur inklusiewe groei en ontwikkeling, asook behoorlike en billike indiensneming vir alle Suid-Afrikaners.

Dié mandaat moet nou onvermydelik bereik word met ‘n begroting wat 16% laer is as die oorspronklike toekenning van R11,08 miljard vir die 2020/21-boekjaar.

Die oplossing vir hierdie uitdaging lê in die vermoë van die departement om meer met minder te bereik sonder om dieselfde foute as in die verlede te begaan.

Die uitbreek van die Covid-19-pandemie kon nie op ‘n meer ongeleë tyd vir Suid-Afrika kom nie.

Met die uitbreek van die pandemie was die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds op die punt van ineenstorting en is die land as beleggingsbestemming afgegradeer tot rommelstatus. Dit is danksy die swak bestuur, staatskaping en korrupsie van die ANC-regering.

Daar moes ferm standpunt ingeneem word om ‘n balans te vind tussen die beskerming van lewens en om tyd te wen ter voorbereiding vir die kruin van die pandemie.

In stede daarvan om 'n noodtoestand te verklaar om 'n ramp te voorkom en aanspreeklik te wees, het die regering 'n ramptoestand verklaar, wat Suid-Afrikaners van hul reg om ‘n inkomste te verdien, ontneem het. Die ekonomie is vernietig deur lomp en irrasionele regulasies.

Honderdduisende Suid-Afrikaners het reeds hul werk verloor, en duisende gevestigde ondernemings en werkgewers het hul deure permanent gesluit, nie weens Covid-19 nie, maar deur voortdurende irrasionele regulasies.

Die tyd sal leer dat die onverbiddelike verbod op tabak- en alkoholprodukte niks anders tot gevolg het as die vernietiging van eens trotse Suid-Afrikaanse en internasionaal erkende handelsmerke nie, wat werk aan meer as ‘n miljoen mense in die waardeketting gebied het.

Die ANC weier om sy blatante foute te erken met die hantering van die pandemie en wend hom eerder na blaamverskuiwing om die aandag van sy mislukkings af te trek.

Die vestiging van 'n bakhand-kultuur sal 'n soortgelyke nadelige resultaat hê as die kultuur van geen betaling vir dienste nie – ook 'n nalatenskap van die ANC.

President Ramaphosa het gisteraand Suid-Afrikaners toegespreek oor hoe openbare geld beskerm sal word deur die reeds onderbefondsde spesiale ondersoekeenheid (SOE).

Openbare geld wat geplunder word, behoort aan Suid-Afrikaanse belastingbetalers. Hierdie plundering vervreem getroue belastingbetalers en vervul hul met wantroue.

Minister Patel weet goed ‘n bevel- en beheerbenadering werk nie, maar wel minder regulering en vertroue in die privaatsektor. Kabinet-kollegialiteit is nie rasioneel nie.

Suid-Afrikaanse belastingbetalers kan nie aanhou om irrasionaliteit te finansier nie.

Navrae: 082 466 3786 / 062 391 1804

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.