fbpx
Vryheidsfront Plus

Departement gee riglyne oor insluiting van verskillende gender identiteite op skool: ‘n Voorbeeld van perkelose individualisme

Die VF Plus is in besit van ‘n dokument wat die departement van basiese onderwys se riglyne vir die insluiting van verskillende gender identiteite in skole bevat. Hierdie riglyne is egter nog aan ’n beperkte gehoor bekendgestel.

Die uitvoerende gesag het skriftelike vrae van die VF Plus hieroor onbeslissend beantwoord en het ook versuim om te reageer op ’n ledeverklaring wat Dinsdag na aanleiding daarvan in die parlement gemaak is.

Hierdie versuim versterk die indruk dat dit amptelik is, maar tans uit die openbare oog gehou word.

Een van die riglyne in die dokument is dat skole badkamers met private hokkies moet toerus sodat leerders van enige gender identiteit in totale privaatheid kan aan- en uittrek en toilet toe gaan.

Geen teken mag buite vertoon word om sekere kleedkamers aan sekere geslagte toe te wys nie. Dit, terwyl puttoilette nog voorkom.

Administratiewe riglyne word ook gestel, insluitend dat leerders nie volgens hul sogenaamde “dead name” aangespreek mag word nie. Dit is die naam wat aan hulle toegeken is voor die besluit om met ‘n ander gender te identifiseer.

Die VF Plus se waarneming is dat die ideologie van radikale individualisme hiermee die beheer oor onderwys neem.

Die algemene siening dat elke mens ’n vryswewende individu is, wat letterlik oor alles ’n keuse kan uitoefen – in hierdie geval selfs oor geslag.

In die radikale individualisme lê gemeenskapsnorme die individu aan bande – selfvervulling is eers moontlik indien dit verbreek word. Die enigste geskikte optrede vir familie- en gemeenskapslede is om die individuele keuse te steun.

Die VF Plus verteenwoordig ’n ander siening van die mens se plek in die wêreld. Die individuele mens is ondenkbaar sonder die gemeenskap – word selfs verwek deur gemeenskap. Die gemeenskap word uit gesinne en families opgebou en vorm weer deel van groter gemeenskappe, kultureel en polities.

’n Ordelike samelewing kan nie sonder gemeenskapsnorme bestaan nie. Nogtans is daar binne enige gemeenskap uitsonderings, of mense wie se persoonlike identiteit nie met die gemeenskapsnorme saamval nie.

’n Totalitêre gemeenskap wat die norme afdwing, word inderdaad nie voorgestel nie.

In ’n liefdevolle en funksionele gemeenskap word uitsonderings erken en gerespekteer, maar steeds as uitsonderings beskou.

Elke gemeenskaplikheid, van die huwelik tot badkamers by skole, kan nie opnuut gekonseptualiseer word, asof die uitsondering die norm is nie.

Die VF Plus steun skoolbeheerliggame wat die gemeenskapsiening in hul skole wil handhaaf.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.