Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Afskryf van kragskuld sal kultuur van nie-betaling bevorder

Dit is verstommend dat president Cyril Ramaphosa die voorstel steun om agterstallige kragrekeninge in Soweto, townships, informele nedersettings en hostelle af te skryf.

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het die voorstel gedoen om hierdie skuld af te skryf.

Volgens die Ramaphosa kan skuld onder sekere omstandighede en op sekere voorwaardes afgeskryf word.

Die president het só gereageer op ‘n vraag van die VF Plus tydens vandag se vraag-en-antwoordsessie in die parlement.

Die VF Plus stem glad nie saam met hierdie siening nie aangesien dit net die kultuur van nie-betaling, wat ‘n ANC-maaksel is, verder sal laat gedy.

Die president se antwoord het dit duidelik gemaak dat die regering geen plan het om die buitensporige agterstallige skuld aan Eskom te hanteer nie. Munisipaliteite se uitstaande skuld aan die kragvoorsiener beloop tans meer as R35 miljard.

Die sentrale regering kan nie bekostig om meer van Eskom se skuld oor te neem nie aangesien die staat se skuld reeds geweldig hoog is.

Eskom het reeds miljarde rande se onbetaalde kragrekeninge in Soweto afgeskryf. In 2020 het hy byna R8 miljard se agterstallige skuld afgeskryf.

Duidelik het die inwoners van Soweto nie by hul deel van die ooreenkoms gehou nie en bloot voortgegaan om nie vir krag te betaal nie.

Op 30 September 2022 het Soweto alweer R4,7 miljard aan die kragvoorsiener geskuld.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het in sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) aangekondig dat die tesourie ‘n gedeelte van Eskom se skuld gaan oorneem.

Eskom se skuld bly egter die belastingbetaler se probleem en om toe te gee aan populistiese uitsprake van politici soos Lesufi, gaan die reeds oorbelaste middelklas onder verdere druk plaas.

Dit skep ook by inwoners verwagtinge waaraan nie voldoen kan word nie en sal aanleiding gee tot meer gewelddadige protesoptredes en sal die kultuur van nie-betaling aanmoedig.

Die ANC het vir bykans 30 jaar nie aandag gegee aan die armes in townships en informele nedersettings nie.

Dié party se fokus was eerder om ‘n handjievol kaders en vriende te verryk ten koste van die armes.

Met die 2024-verkiesing in sig, probeer die ANC nou met onverantwoordelike beloftes steun werf. Dit gaan liederlik in sy gesig ontplof.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.