Die VF Plus het met die debat oor Mpumalanga se provinsiale rede van die nuut verkose premier, mnr. Mandla Ndlovu, sterk standpunt ingeneem teen enige verdere verval van die provinsie.
Die VF Plus beskou veral die ekonomiese planne wat die premier tydens sy provinsiale openingsrede aangekondig het, as onvoldoende om die provinsie se swak ekonomie om te keer.
Dit herhaal bloot die leë beloftes van vorige premiers, soos oor werkskepping sonder enige plan oor hoe dit gaan plaasvind.
Mpumalanga se swak ekonomiese situasie benodig dringend ʼn waterskeidingsoomblik waar bewese beleid vanaf grondvlak sonder verwyl in werking gestel moet word.
Dit blyk dat mnr. Ndlovu nie die provinsie se hoë werkloosheidsyfer – veral onder die jeug – ernstig opneem nie. Hierdie syfer is tans 44.6%.
Die mislukking begin op voetsoolvlak met die onderwysdepartement wat nie in die behoeftes van leerders voorsien nie. Daar is te veel wanbestuurde fondse en fondse wat verdwyn.
Die plaaslike onderwysstelsel rus nie studente toe met praktiese en beroepsvaardighede nie en lei tot ‘n wanbalans tussen werksoekers se vermoëns en werkgewers se behoeftes.
Tans ondersoek die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) die provinsie se departement van onderwys oor beweerde korrupsie en ongerymdhede. Die SOE kyk onder meer na kontrakte wat verband hou met die verskaffing van voedsel aan skole.
Die gevolge van sulke vermeende korrupsie lei tot laer gehalte onderwys, minder gekwalifiseerde werknemers en hoër koste om geskoolde werkers te lok en te behou.
Die provinsie se hoë werkloosheidstatistieke weerspieël hoe die regering se huidige ekonomiese beleid nie daarin slaag om die lewenstandaard van die jeug te transformeer nie.
Dit weerspieël ‘n regering wat opgegee het om sinvolle oplossings te soek om die uitdagings wat die werkersklas-meerderheid in die gesig staar, te beëindig. Sulke toestande kweek onrus en politieke onstabiliteit.
Om jeugwerkloosheid reg te stel, sal die premier van voetsoolvlak moet begin om onderwys te verbeter, weg te doen met korrupte amptenare en om entrepreneurskap, veral in die private sektor, te ondersteun.
Dit is nou die tyd om toegang tot inligting en hulpbronne te verbeter, sistemiese kwessies aan te spreek en openbare-private vennootskappe te steun.
‘n Jeug wat ten volle opgelei is, is die enigste manier om die ekonomiese toekoms van Mpumalanga te red.