Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se finansiële situasie het verder versleg moet die goedkeuring van sy aansuiweringsbegroting wat met R400 miljoen afwaarts aangepas is.
Emfuleni het vir die 2024/25-finansiële jaar ʼn onbefondsde begroting goedgekeur en omdat daar geen verbetering in die munisipaliteit se finansies is nie, bly die begroting onbefonds.
Weens die munisipaliteit se nienakoming van sy befondsingsplan, sal hy nie oor genoeg fondse beskik om sy krediteure te betaal nie.
Hy sal ook nie onder andere amptenare of raadslede se salarisse kan betaal, rente diens of vir gekontrakteerde dienste kan betaal nie.
Emfuleni het R720 miljoen nodig om sy maandelikse uitgawes te dek.
Die benarde situasie kan deels toegeskryf word aan die invorderingskoers van munisipale rekeninge wat in die tweede kwartaal slegs 72% was. Dit is 12% laer as die geprojekteerde invorderingskoers van 85% of hoёr in die 2024/25-begroting.
Weens die vermindering in die aansuiweringsbegroting kan die bykomende versoeke van departemente nie geakkommodeer word nie. Dit gaan beteken dat dienslewering nog verder agteruit sal gaan.
Geen bykomende vullisverwyderingstrokke sal gekoop of gehuur kan word nie, krag- en waterfoute sal langer neem om te herstel omdat daar nie fondse is om brandstof vir munisipale voertuie aan te koop nie en sypaadjies en openbare ruimtes sal nie opgeruim kan word nie.
Die VF Plus het nie die aansuiweringsbegroting gesteun nie en is van mening dat die munisipaliteit wel suksesvol bestuur kan word indien fondse reg beheer en aangewend word.
Die wanbestuur van die munisipaliteit die afgelope jare het Emfuleni vernietig en inwoners betaal die prys daarvoor.
Die VF Plus sal sy mandaat gestand doen en aanhou voortgaan om die munisipaliteit op sy foute te wys en berekende uitkomste voorstel.


