‘n Suksesvolle plaaslike regering is een met logiese benaderings en eenvoudige oplossings en die enigste werkbare wyse om dit te bereik, is deur desentralisering en om munisipaliteite nader aan die inwoners en belastingbetalers te bring.
Plaaslike regering se kernplig is om op te tree as hoofrolspeler en ontwikkelaar van dienste ook aan die armes en om saam met die private sektor te werk in ‘n verantwoordbare, effektiewe diensleweringsrol.
Bestaande hulpbronne en middele moet ten volle benut word om strukture te skep en te verbeter om behoorlik met inwoners te kommunikeer en dienste te lewer wat aan belastingbetalers se eise en behoeftes voldoen.
In Suid-Afrika gebeur dit nie. Munisipaliteite is wankfunksioneel en korrupsie vier hoogty. Volgens die bevindinge van die Ouditeur-Generaal (OG) bestaan verantwoordbaarheid feitlik nie en is munisipaliteite nie rolspelers in die ontwikkeling van die ekonomie nie, maar eerder 'n hindernis.
Gekwalifiseerde en bekwame amptenare verkies om teen swakker salarisse in die privaatsektor te werk bloot om die stigma van ''korrupte amptenaar'' te vermy. Dit lei tot ‘n groeiende weerstandigheid onder belastingbetalers wat nie bereid is om te betaal vir swak of nie-bestaande dienste nie.
'n Voorbeeld hiervan is die Matlosana-plaaslike munisipaliteit in Noordwes. Diensrekeninge wat aan inwoners gestuur is, is moeilik verstaanbaar en in stryd met die Verbruikerswet. Klagtes hieroor by die Verbruikerskommissie val op dowe ore.
Dienste wat tans aan belastingbetalers gelewer word, is skandalig swak en dan word verwag hulle moet ten duurste daarvoor betaal. Selfs die OG het bevind daar bestaan nie die politieke wil om die situasie enigsins te verbeter nie.
Volgens die VF Plus is daar net een manier om die plaaslike regering in Suid-Afrika te verbeter en dit is om die ANC-regering te vervang met ‘n bevoegde regering wat die VF Plus insluit wat waarlik ‘n diens aan die gemeenskap sal lewer.
Kontaknommer: 079 409 8342