Navorsing deur ‘n onafhanklike kenner op die gebied van besoedeling, wat in die plaaslike media gepubliseer is, het bevind dat rivierwater wat op Oos-Kaapse plase en in dorpe gebruik word, besoedel is met onbehandelde riool wat kan veroorsaak dat cholera in groot dele van die Oos-Kaap uitbreek.
Dienslewering in baie munisipaliteite in die Oos-Kaap asook infrastruktuur, is op die punt van ineenstorting wat veroorsaak dat riool in riviere beland waarvan die water gebruik word vir besproeiing en normale gebruik in dorpe en woongebiede.
Daar is ook bevind dat 1 598 van die 5 400 skole in die Oos-Kaap nie voldoende toiletgeriewe het nie en leerlinge gebruik maak van die putstelsel. ‘n Verdere 61 skole het geen toiletgeriewe het nie.
Die probleem lê nie net by die skole nie, maar in die breër gemeenskap waar water en sanitasie agterweë gelaat word terwyl riool en afval gestort word in, of naby riviere en damme.
Die VF Plus stel voor ‘n provinsiale taakgroep vir sanitasie moet gestig word en 'n strategiese raamwerk moet ontwikkel word om die probleme van sanitasie in die gebiede te behandel. Die distriksmunisipaliteit moet reaksiespanne op die been bring wat waterbronne maandeliks monitor om te bepaal of dit veilig is vir menslike gebruik.
Riviere en rioolwerke moet kwartaalliks vir cholera getoets word en rampbestuursplanne moet in plek gestel word.
Die VF Plus en die publiek moet deurentyd druk op munisipaliteite plaas om infrastruktuur in stand te hou en om rioleringsaanlegte deeglik te monitor om te verhinder dat ‘n onnodige epidemie in die provinsie uitbreek.
Kontaknommer: 072 582 3461