Die debat oor globale klimaatsverandering het só verpolitiseerd geraak dat dit moeilik is om die ware feite daaroor te kry. Boonop kry die Suid-Afrikaanse regering dit nie eens reg om huishoudelike probleme wat die omgewing raak, op te los nie. Hoe hy die groter probleem wil aanpak is dus ‘n ope vraag.
Die Wetsontwerp op Klimaatsverandering is ‘n goeie voorbeeld. Dit is reeds twee jaar gelede gepubliseer, maar het nog nie voor die parlement gedien nie. Suid-Afrika is nogtans ‘n ondertekenaar van die Parys-ooreenkoms oor klimaat en wetgewing sal geskep moet word om aan die ooreenkoms uitvoering te gee.
Daar moet ook in Suid-Afrika gewaak word dat die debat oor klimaat nie gekaap word vir partypolitieke doeleindes nie. Wat by munisipaliteite en staatsondernemings gebeur het, is ‘n tydige waarskuwing teen die gevaar hiervan.
Wanneer oor klimaat in Suid-Afrika gepraat word, moet water in dieselfde asem genoem word. Een van die grootste uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, is water. Indien saamgestem word dat klimaatsverandering ‘n realiteit is, moet saamgestem word dat water die land se eerste, onmiddellike probleem is.
Munisipaliteite moet deel gemaak word van die soeke na oplossing vir die klimaatkwessie. Besef munisipaliteite dat watervermorsing eindelik ernstige watertekorte gaan veroorsaak? Weet hulle dat gebrekkige rampbestuurplanne sal beteken dat droogtes en vloede rampspoedig kan wees?
Weet die Nketoana-munisipaliteit (Reitz) nie om aandag te skenk aan sy riool uit Ntah nie en dat dit deur ‘n plaas met diere loop en uiteindelik in die Vaalrivier beland?
Weet die Matjhabeng-munisipaliteit (Welkom) nie om waterlekkasies reg te maak nie en weet die Mangaung-munisipaliteit (Bloemfontein) nie dat hy elke minuut ‘n swembad vol water verloor weens lekkasies nie? Weet die Mafube-munisipaliteit (Heilbron) dat die riool wat uit sy stukkende pype vloei, ook in die Vaalrivier beland? Dit is duidelik die regering besef nie wat die effek van wanbestuur op die klimaat het nie.
Die regering sal nou moet wys hy het die politieke wil om op te tree om Suid-Afrika se huidige en dwingende probleme op munisipale vlak op te los voordat hy met erns die groter probleem van klimaatsverandering kan aanpak.
Kontaknommer: 076 629 6219