Daar is nou daadwerklike optrede en aanspreeklikheid nodig om die waterkrisis in groot dele van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) op te los.
Sommige dele van die metro, insluitend Despatch en Kariega, is reeds vir 13 dae sonder water – ’n onaanvaarbare situasie wat duisende inwoners sonder hierdie noodsaaklike diens laat.
Die VF Plus waarsku dat hierdie toestand ’n ernstige skending is van inwoners se grondwetlike reg op water.
Die oorsaak lê nie bloot by droogte of damvlakke nie, maar by jare se wanbestuur, vervalle infrastruktuur en gebrekkige instandhouding binne die metro.
Byna die helfte van die beskikbare water word deur lekkasies en verliese opgeslurp, terwyl verskeie reservoirs nie behoorlik funksioneer nie.
Inwoners is nou genoodsaak om kilometers te stap met swaar houers en frustrasie by watertenkwaens loop hoog weens swak koördinering, onvoldoende voertuie en onbetroubare aflewering.
Sommige gebiede wag dae of selfs ’n week vir hul beurt vir water wat vinnig in ’n humanitêre ramp kan ontaard.
Hoewel herstelwerk aan die Sondagsrivierkanaal voortduur, is dit duidelik dat die kern van die probleem in die metro se bestuursfoute en politieke onwilligheid lê.
Die VF Plus het reeds versoek dat die kwessie dringend op die volgende raadsvergadering se agenda geplaas word.
Die party stel voor dat die ANC-koalisieregering die volgende stappe neem:
• Stel ’n onafhanklike waterbestuurskomitee aan met eksterne kundiges om instandhouding en beplanning te monitor.
• Beskerm instandhoudingsbegrotings en gebruik dit uitsluitlik vir infrastruktuurherstel.
• Verskaf gereelde, deursigtige openbare verslae oor damvlakke en reservoirstatus.
• Koördineer noodwaterlewering meer doeltreffend, met spesiale fokus op billike verspreiding en korter afleweringstye.
Toegang tot water is nie ’n luukse nie, maar ’n basiese mensereg en ’n voorwaarde vir gesondheid, waardigheid en ekonomiese oorlewing.
Die VF Plus dring daarop aan dat die koalisieregering politieke wil en verantwoordbaarheid toon en daadwerklike stappe neem om hierdie krisis te beëindig.
Die inwoners van Nelson Mandelabaai verdien betroubare watervoorsiening. Verskonings is nie meer genoeg nie.


