Die Demokratiese Alliansie (DA) se voorsitter, James Selfe, mislei die kiesers oor die uitslag van die Kouga-munisipaliteit in 2011. Hy gebruik dit as voorbeeld vir die regverdiging van hul misleidende veldtog om te sê jy mors en verdeel jou stem as jy vir ander kleiner partye stem, sê dr. Pieter Groenewald, (LP) voorsitter van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê Selfe beweer die Vryheidsfront Plus en ‘n ander party het veroorsaak dat die ANC regeer en dit is onwaar aangesien dit die onafhanklike kandidaat was wat gestaan het wat gesorg het dat die ANC regeer.
“Die onafhanklike kandidaat, wat nie die wyk gewen het nie, het 1 129 stemme gekry. Die kiesstelsel se kiesformule bepaal dat hierdie stemme dan verlore gaan en nie bygetel word soos in die geval van ‘n politieke party nie. Die gevolg daarvan is dat die kwota minder is wat die ANC bevoordeel het.
“Indien die onafhanklike kandidaat as ‘n kandidaat van ‘n politieke party deelgeneem het, sou die kwota verander het en sou die ANC 14 setels, die DA 14 setels en die onafhanklike se party een setel gewen het. Dit sou die opposisie dan ‘n meerderheid van een setel besorg het.
“Die korrekte veldtog van die DA moet dan wees om te sê jy mors en verdeel jou stem as jy vir ‘n onafhanklike kandidaat stem. Die blote verandering van die onafhanklike kandidaat na ‘n politieke party, sou die ANC uit regering gehou het. Ander opposisiepartye sou dus wel die ANC kon wen en mors of verdeel jy dus nie jou stem as jy vir ander kleiner partye stem nie.
“Die DA moet sy misleiding van die kiesers staak en is ander partye ‘n verskoning skuldig,” sê dr. Groenewald.
Navrae: 083 627 4397 / 083 419 5403