Die VF Plus bevraagteken die prioriteite van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit nadat goedkeuring gevra is vir die uitvoerende burgemeester, mnr. Wiseman Khumalo, die munisipale bestuurder en senior amptenare om die World Water Week-konferensie in Singapoer van 15 tot 19 Junie 2026 by te woon.
Dit terwyl Mbombela se krane leeg loop.
Luidens die dokumentasie wat tydens ‘n spesiale raadsvergadering voorgelê is, sal die reis sowat R312 000 kos vir slegs twee afgevaardigdes. Dit sluit registrasie, retoer besigheidsklas-vlugte en ses nagte se verblyf in. Die uitgawe moet uit die kapasiteitsbou-begroting van die departement tegniese dienste betaal word.
Terwyl die munisipaliteit sulke groot bedrae aan internasionale reise bestee, sukkel inwoners, veral in Hazyview, steeds met ernstige waterprobleme.
Luidens antwoorde op skriftelike vrae van die VF Plus het Hazyview oor die afgelope twaalf maande gemiddelde waterverliese van 68% gehad, met sommige maande so hoog as 79% waar Mbombela se algemene verliese op 38% staan.
Hierdie verliese het die munisipaliteit oor dieselfde tydperk sowat R37,9 miljoen gekos. Dit is geld wat eerder gebruik kon word om lekkasies te herstel en verouderde infrastruktuur op te gradeer.
Die VF Plus het reeds herhaaldelik sy kommer uitgespreek oor senior amptenare en politieke leiers se gereelde bywoning van internasionale waterseminare in lande soos Japan, Nederland, Kenia en Swede sedert Julie 2025.
Hoewel raadsbesluite vereis dat terugvoer-verslae ná sulke besoeke aan die raad voorgelê word, is daar tot op hede geen enkele verslag ontvang wat aandui wat geleer is en hoe dit toegepas kan word om Mbombela se wateruitdagings op te los nie.
Die VF Plus is van mening dat die munisipaliteit se eerste prioriteit die herstel en instandhouding van waterinfrastruktuur moet wees, nie duur oorsese konferensies nie.
Inwoners het die reg op betroubare watervoorsiening en verantwoordelike bestuur van hul belastinggeld.
Elke beskikbare rand behoort aangewend te word om waterverliese te verminder en dienslewering te verbeter, eerder as om politieke en administratiewe aansien in die buiteland na te jaag.
Die VF Plus sal aanhou om deursigtigheid en verantwoordbaarheid te eis.
Met die plaaslike regeringverkiesing op 4 November 2026 het inwoners die geleentheid kry om vir die VF Plus te stem wat dienslewering en infrastruktuur bo onnodige uitgawes plaas.


