'n Energiekrisis en dramatiese stygings in die pryse van petrol en diesel, is waarvoor 2022 onthou sal word.
Hoewel daar die afgelope twee maande vir Suid-Afrikaanse verbruikers verligting was, is prysstygings vir dié maand weer aangekondig.
Petrol (beide 93 en 95) het om middernag met 28c per liter, diesel met 9c per liter en paraffien met 58c per liter gestyg.
Met elke prysstyging gaan stemme op vir die herstrukturering van brandstofpryse.
Dit kan wel 'n verskil maak, maar die prys word eintlik deur die internasionale ru-olie prys, die waarde van die rand en belastings saamgestel.
Die formule is deursigtig en kan betreklik maklik deur enigeen wat die moeite doen, bereken word.
'n Kenmerk van die prys is dat dit altyd terugwerkend bereken word. Dit beteken dat ‘n mens as't ware die huidige maand betaal wat petrol die vorige maand gekos het.
Daarom word 'n moontlike oor- of onderverhaling ook ingereken.
Die enigste faktore wat binne die regering se beheer is, is belastings en tot 'n mindere mate die waarde van die rand.
Met belastings is daar min beweegruimte, omdat verlore inkomste elders herwin moet word.
Die rand se waarde daarenteen, word deur die huidige kragkrisis en onverantwoordelike uitsprake oor die mandaat van die Suid-Afrikaanse Reserwebank ondermyn. Dié instelling het juis opdrag om die geldeenheid te beskerm.
Uiteindelik is die sterkste optrede om brandstofpryse in bedwang te bring, die uitstem van die ANC-regering. Daardie geleentheid moet in 2024 benut word.