fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dringende ingryping van Noordwes-premier in Ventersdorp se kragkrisis

Die VF Plus het Noordwes se premier, mnr. Bushy Maape, versoek om persoonlik en dringend in te gryp in die voortslepende kragkrisis op Ventersdorp.

Dele van die plaaslike boeregemeenskap sit reeds vir 45 dae sonder krag.

Hierdie stap volg nadat die VF Plus reeds herhaalde versoeke gerig het aan die munisipale bestuur van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp), om die kragtoevoer in die landelike omgewing rondom Ventersdorp behoorlik te herstel.

Die VF Plus het ook op 28 Desember ‘n vergadering tussen die plaaslike gemeenskap en die burgemeester, mnr. Gaba Ka Qhele, die munisipale bestuurder, mnr. Sandile Tyatya en die direkteur van tegniese dienste, mnr. Mike Maki, gefasiliteer waar verskeie ondernemings aan die gemeenskap oor die herstel van die kragtoevoer gemaak is.

Die munisipale bestuur het onder meer onderneem om te verseker dat die na-ure-inbelsentrum, wat deur plaaslike sakelui geborg is, deurlopend beman word om inwoners se klagtes te registreer.

Tot op hede is die kragtoevoer nog nie herstel nie.

Verdere navrae aan die ANC-beheerde JB Marks-munisipaliteit lewer telkens bloot net nuwe verskonings vir die situasie op.

Dit wissel van administratiewe rompslomp tot die beweerde onbeskikbaarheid van onderdele.

Intussen ly die boeregemeenskap onmeetbare skade.

Kragopwekkers moet ten duurste ingespan word om die watertoevoer in stand te hou en bederfbare produkte te bewaar.

Dit is ‘n skande dat ‘n hele boeregemeenskap bykans op sy knieë gedwing word weens die onkunde, laksheid en gebrek aan verantwoordelikheid van die ANC-bestuur in die JB Marks-munisipaliteit.

Die inwoners van Ventersdorp en Potchefstroom verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.