Jan van Niekerk, leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, sê hy is dankbaar dat die hof op Vrede borgtog geweier het vir een van die verdagtes wat die Kritzinger-egpaar op hulle plaas aangeval het. Die ander verdagte het nie vir borgtog aansoek gedoen nie. Beide die verdagtes bly in aanhouding tot hulle volgende verskyning.
Van Niekerk sê dat groot getalle belangstellendes die hofverrigtinge verlede Maandag en ook vandag bygewoon het om ook op so ‘n manier hulle misnoeë te kenne te gee met die lafhartige en barbaarse aanvalle op boere en hulle gesinne. Hy bedank al die belangstellendes wat die hofverrigtinge bygewoon het en het ook die hoop uitgespreek dat die publiek al meer betrokke sal raak om misdaad in al sy vorme te bekamp.
Die Vryheidsfront Plus wil in hierdie moeilike tyd die Kritzinger-egpaar en hulle families deurlopend aan ons Hemelse Vader opdra en hoop dat hulle spoedig sal herstel waar hulle nogsteeds in die intensiewe sorgeenheid van die Uniehospitaal in Alberton is.
Die Vryheidsfront Plus doen weereens ‘n beroep op die regering om plaasaanvalle en –moorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar sodat dit op die hoogste vlak deur die regering ondersoek kan word. Misdadigers moet ook gepaste strawwe opgelê word wat sal dien as afskrikmiddel vir ander.
Jan van Niekerk
(083 743 2042)