Die reeds sukkelende ekonomie van Noordwes is vandeesweek 'n verdere hou toegedien met die uitgebreide gewelddadige betogings in die gebied, sê Fanie du Toit, die VF Plus se onderleier vir Noordwes.
Du Toit sê betogings met gepaardgaande padversperrings het voorgekom by Lichtenburg, Ventersdorp, Hartbeesfontein, Delareyville en by Groot Marico op die N4.
Hy sê hierdie betogings en die sluit van nasionale- en provinsiale paaie in die provinsie beïnvloed die ekonomie uiters negatief aangesien klein- en groot sakeondernemings sukkel om in sulke omstandighede te funksioneer.
“Dit gaan reeds moeilik met sakemanne en boere in Noordwes na die knellende droogte en afleggings in die mynbedryf. Amal in die provinsie voel steeds die gevolge daarvan, en hierdie betogings kan nie bekostig word nie.
“Die regering wend geen daadwerklike poging aan om 'n omgewing te skep wat gunstig is vir werkskepping en vryehandel nie en dit kos die provinsie daagliks miljoene rande.
“Die VF Plus dring daarop aan dat inwoners van Noordwes se regte op vryheid van beweging en handel beskerm word ten einde 'n voortbestaan vir almal te verseker. Naas die publiek se persoonlike veiligheid moet ekonomiese veiligheid ook 'n prioriteit wees,” sê Du Toit.
Kontaknommers: 079 885 1135 / 084 8112155 / 079 409 8342