Bethal het die afgelope week soms tot so lank as 24 uur geen kragvoorsiening gehad nie. Sake-ondernemings, ouetehuise en inwoners het groot ongerief en skade gely in die proses.
Volgens bronne in die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit het munisipale elektrisiëns moontlik doelbewus die krag na die dorp vir hierdie lang periodes afgesny aangesien hulle glo nie besoldig is vir oortyd-werk nie.
Munisipale amptenare het later bevestig dat hierdie werknemers die vereiste werktyd van 40-uur per week oorskry het en dat betaling vir oortyd nie gemagtig is nie.
Die VF Plus sal ondersoek instel na hierdie beweringe en indien dit waar is, sal die skuldige persone verantwoording moet doen.
Dit is onaanvaarbaar dat dienslewering in Bethal gestriem word deur onbevoegdheid, munisipale wanadministrasie en binnegevegte.
Die gebeure versterk die mening van die VF Plus dat Bethal en Emzinoni van die groter Govan Mbeki-munisipaliteit geskei moet word. Bethal is nou lank genoeg as die ongewenste stiefkind behandel.
Die VF Plus gaan hierdie kwessie na die provinsiale departement van samewerkende regering verwys vir ondersoek en om sodoende aanspreeklikheid by die munisipaliteit af te dwing.
Navrae: 082 795 8895