fbpx
Vryheidsfront Plus

Bespreking in parlement van ad-hoc komitee se aanvaarding van Polisie-minister se verslag oor Nkandla

Die Nkandla-kwessie gaan nie net oor die geldelike bevoordeling al dan nie van die persoon president Jacob Zuma nie. Die eintlike gevolge raak die wese van die Suid-Afrikaanse samelewing. Hier volg die volledige toespraak van dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus en deel van die parlementêre ad hoc-komitee wat ondersoek gedoen het na die Nkandla-aangeleentheid.

Waaroor gaan die Nkandla-skandaal. Gaan dit daaroor dat die president bevoordeel is of nie? Helaas gaan dit oor veel meer. Dit gaan oor basiese grondwetlike beginsels; oor die magte en bevoegdhede van grondwetlike instellings. Dit gaan oor die wese van 'n staatsbestel wat veronderstel is om deursigtig en verantwoordbaar te wees. Dit gaan oor wat reg en verkeerd is, oor korrupsie en bedrog. It is about collective amnesia.

Dit gaan oor R246 miljoen duur betaalde belastingbetalersgeld. Dit is baie geld, veral in 'n land van enorme armoede en werkloosheid.

Daardie bedrag is nie spandeer om 'n amptelike presidensiële staatswoning soos die voormalige Groote Schuur of die Withuis in die VSA, wat deur opeenvolgende presidente gebruik gaan word, te verbeter nie. Nee, hierdie bedrag is spandeer om sogenaamde veiligheidsmaatreëls by die president se privaatwoning aan te bring. Wanneer president Zuma se termyn in 2019 tot 'n einde kom, bly dit daar tot voordeel van homself en sy familie.

Na die ad-hoc komitee se besoek aan Nkandla verlede maand, is die ANC-lede skielik eenstemmig dat daar 'n groot opblaas van pryse was ten opsigte van kontrakte, dat die staat besteel is op 'n baie groot skaal en dat daar ernstige korrupsie plaasgevind het. Die skuldiges moet aan die man gebring word. Dit is egter dieselfde ANC-lede wat tydens al drie ad-hoc komitees wat hieroor in die lewe geroep is, nie wou toelaat dat die Openbare Beskermer aangehoor word, of dat een enkele getuie geroep kon word anders as twee ANC-ministers nie. Geen getuie wat nie streng onder die gesag van die ANC-koukus en Luthuli-huis is nie, is naby die prosesse toegelaat nie. The ANC the mighty national liberation movement is scared of one woman – the Public Protector.

Getuig dit van 'n ernstige soeke na die waarheid of getuig dit van 'n desperate poging om die absoluut onderverdedigbare ten alle koste te verdoesel?

Uit 'n veelvoud van verslae skreeu die feite dit helder en ondubbelsinnig uit. Daar is geen twyfel dat die president en sy gesin onbehoorlik bevoordeel is in hierdie hele proses nie. R206 miljoen is reeds spandeer aan die huis van die president, sowel as aan ander geboue en fasiliteite binne 'n radius van minder as 1 kilometer rondom die huis. Jy hoef nie 'n ruimtewetenskaplike te wees om te besef dat indien die staat R246 miljoen spandeer met geriewe en fasiliteite in en om my huis in 'n direkte radius van 1 kilometer dat ek beslis daardeur bevoordeel sal word nie. Daar is nie een enkele gebou of fasiliteit opgerig wat nie 'n direkte verband het met die feit dat die eienaar van die huis tans die president is nie.

Het president Zuma geweet wat hier aangaan? Die antwoord is 'n ondubbelsinnige "ja". Op 4 Desember 2009 bars die bom in die media: "Zuma's R65 million Nkandla splurge" Dit is in 2010 en 2011 deurlopend in die parlement met vrae aan die president opgevolg om die waarheid te probeer vind. Die Openbare Beskermer het in haar ondersoek 29 pertinente vrae aan die president op skrif gevra. Tot vandag toe het die president verkies om 18 van daardie vrae totaal te ignoreer.

Hier is 'n eenvoudige vraag aan die president: Het u op enige stadium navraag gedoen oor die koste van hierdie projek, wat opsigtelik baie omvattend en hoog was? En indien nie, het u nooit die verpligting as staatshoof gevoel om hieroor navraag te doen nie, aangesien dit duidelik was dat substansiële bedrae van belastingbetalersgeld gespandeer word?

Moenie vir een oomblik geregtigheid of 'n opregte vind van die waarheid met betrekking tot Nkandla verwag daar waar die ANC oor enige meerderheid beskik nie. Dit sal nie daar gevind word nie.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403

 

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.