Die VF Plus verwelkom die goedkeuring van die gemeenskapsopheffingsgebiede (GOG) en sien uit na die gemeenskap se inisiatiewe binne dié betrokke raamwerk en die suksesvolle implementering daarvan.
Die VF Plus in die Tshwane-metroraad was instrumenteel in die daarstelling van dié projek wat tydens ʼn raadsvergadering van 30 November goedgekeur is.
Dit vul die huidige munisipale verordening op interne munisipale diensdistrikte (IMSD), voorheen bekend as die stadsverbeteringsdistrik (SVD), aan.
Die GOG stel die gemeenskap in staat om aktiewe rolspelers te word en wettige, diverse instandhoudingsdienste binne hul woon- en werkplek in te stel deur middel van ’n formele diensleweringsooreenkoms.
Dit stel die gemeenskap in staat om op ʼn vrywillige grondslag die verdere verval van die gemeenskap te keer en die gemeenskap te beveilig.
Gemeenskapaksies wat hierby ingesluit word, is onder meer die skoonmaak en onderhoud van spesifieke gemeenskapsgeriewe soos parke, die vestiging en bestuur van buurtwagte, oprigting van kringtelevisie-kameras binne bepaalde riglyne en die verf van padtekens.
Andere projekte sluit ook in die basiese instandhouding op die openbare padreserwe, die plasing van advertensiemateriaal by goedgekeurde plekke, die oprig van padtekens en die tydelike herleiding van verkeer.
Elke ooreenkoms het betrekking op ʼn geografiese gebied of ʼn stel standaarde wat die toegelate aksies van die beleid uiteensit wat uniek is tot die spesifieke gebied.
Inwoners en ondernemings kan ʼn operasionele plan saamstel waarin die verantwoordelikhede van die metro en die betrokke gemeenskap uiteengesit word.
Dit dien dan as die werkswyse waarvolgens die onderskeie partye hul verantwoordelikhede kan nakom.
Die aansoekproses is eenvoudig en kan vinnig in werking gestel word. Die ooreenkoms tussen die GOG en die munisipaliteit geld vir ʼn tydperk van drie jaar, waarna dit hersien kan word en vir ʼn verdere tydperk verleng kan word.
Daar is reeds gebiede in die Tshwane-metro wat suksesvol hiermee begin het, insluitend Pretoria-Noord, Die Moot, Eersterust, Hatfield en Rosslyn.
ʼn Aktiewe en positiewe deelnemende gemeenskap kan vorentoe ’n groot rol speel in die instandhouding en die verbetering van hul omgewing en die metro wat tot voordeel van almal kan wees.
Die VF Plus glo dat dit ekonomiese groei sal bewerkstellig en selfbeskikking in gemeenskappe sal bevorder deur konstruktiewe samewerking met die metro te fasiliteer.