fbpx
Vryheidsfront Plus

Bekendstelling van VF Plus-premierskandidaat vir die Wes-Kaap

Dr. Corné Mulder, parlementslid en Wes-Kaapse leier van die VF Plus, is aangewys as dié party se premierskandidaat vir die Wes-Kaap vir die algemene verkiesing op 29 Mei vanjaar.

Dr. Mulder beklee die eerste posisie op die VF Plus se lys vir die Wes-Kaapse parlement.

Dr. Mulder is tans die VF Plus se parlementêre hoofsweep en is ook die langsdienende parlementslid in Suid-Afrika met meer as 36 jaar se ononderbroke diens.

Hy is akademies goed onderlê en beskik oor ʼn B.Iuris-, LL.B- en LL.D-graad.

Hy het sy doktorsgraad in Staatsreg (Constitutional Law) op 26 jarige ouderdom behaal en spesialiseer in grondwette en grondwetlike modelle. Hy is ook ʼn toegelate prokureur van die Hooggeregshof van Suid-Afrika.

Dr. Mulder het oor die laaste jare ʼn huishoudelike naam geword met die rol wat hy gespeel het en steeds speel in die onderhandeling en samestelling van veelparty-koalisies wat in die eerste keer in drie dekades werklike hoop bied om die ANC te ontsetel.

Die VF Plus in die Wes-Kaap lê, benewens die party se nasionale veldtog om Suid-Afrika as kern te herstel en te herbou, ook ʼn unieke plegtige onderneming voor aan die kiesers van die Wes-Kaap waarvoor steun gevra word.

Dr. Mulder daag die premierskandidate van al die ander politieke partye in die Wes-Kaap uit om ook hierdie plegtige ondermening, wat handel oor die kern van die vraagstukke wat kiesers in die Wes-Kaap in die gesig staar, te onderteken.

Plegtige onderneming:

Ons onderneem om ons te beywer vir:

  1. Die bevordering en uitbou van Christelike beginsels en waardes in ons gemeenskappe.
  2. Die daarstelling van ‘n deursigtige en verteenwoordigende koalisieregering in die Wes-Kaap wat enige poging van die ANC en die EFF en hul vennote om provinsiale mag in die Wes-Kaap te bekom, sal teenstaan en beveg.
  3. Vryheid vir al die mense van die Wes-Kaap: Vryheid van werkloosheid, vryheid van armoede, vryheid van dwelms, vryheid van geweld en sosiale onstabiliteit en vryheid om oor ons eie taal- en kultuurwaardes te beskik.
  4. Regverdige ekonomiese deelname vir almal wat insluit entrepreneur- en mentorprogramme, asook befondsingsprojekte vir nuwe ondernemings wat werk aan plaaslike gemeenskappe kan verskaf.

Die skep van voordelige aansporingsmaatreëls vir maatskappye wat hulself in die Wes-Kaap wil hervestig. Die terugbring van klerefabrieke en die klerebedryf, asook ʼn beperking op die invoer van goedkoop klereprodukte uit China. Die terugplaas van die visbedryf in die hande van plaaslike gemeenskappe.

  1. Familie eerste-gemeenskapsnetwerke. Die skep van programme om veilige gemeenskappe te verseker. Die skep van werksgeleenthede en die bevordering van Christelike familiewaardes en ʼn ondersteuningstelsel om geslags- en huishoudelike geweld te voorkom.
  2. Onskuld-projek (“Innocence Project”) om die jeug teen onaanvaarbare gebruike te beskerm.

Neem ons skole terug met bevoegde skoolbeheerliggame en direkte gemeenskapsbetrokkenheid. Verseker ‘n veilige speelplek-omgewing vir alle kinders en roei afknouery en groepsdruk uit. Bemagtig ons jeug en bevorder moedertaalonderrig sonder inmenging van die regering.

  1. Bring wet en orde terug: Stop die bendegeweld en skietvoorvalle in ons gemeenskappe. Bring hoogs opgeleide gespesialiseerde eenhede in die polisiediens in wat dit kan uitroei.
  2. Ontmoedig die toegang van onwettige immigrante in die Wes-Kaap wat ons werk vat – ons burgers kom eerste.
  3. Trancraa (Wet op die Transformasie van sekere landelike gebiede): Dra inheemse mense se grond oor. Hierdie grond moet nou aan die betrokke gemeenskappe teruggegee word, byvoorbeeld dié van Genadendal, Pniel, Pella ens.

Ons verbind ons ook tot die vind van unieke behuisingsoplossings in samewerking met ons verskillende gemeenskappe.

  1. Die reg van die inwoners van die Wes-Kaap om hulself te bemagtig en self ʼn keuse uit te oefen rondom hul vryheidstrewe deur federalisme, lokaliteit, subsidiariteit en selfbeskikking, soos dit internasionaal voorkom.

Die beplanning en organisering vir ʼn referendumproses in die Wes-Kaap as ‘n stap tot die selfseggenskap van die Wes-Kaap.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.