Dit is duidelik dat Suid-Afrika in ‘n ernstige finansiële verknorsing is en dat die land se ekonomiese skip besig is om te sink wat staatskuld en die toename in die begrotingstekort aanbetref.
Die enigste manier waarop dié skip gered gaan word, is deur ekonomiese groei. Die harde waarheid is egter dat daar nie werklik antwoorde is om ekonomiese groei te bewerkstellig en staatsbesteding te besnoei nie.
Kosmetiese skuiwe gaan nie goed genoeg wees om die situasie te beredder nie. Die enigste wyse hoe die staat daadwerklik sy skuldlas onder beheer kan bring, is om sy salarisrekening en onnodige uitgawes te beperk.
Tog bestee die ANC-regering steeds broodnodige fondse op onnodighede, soos naamsveranderings van dorpe en stede.
Daar is wel verligting wat persoonlike belasting aanbetref, maar dit is nie voldoende nie.
Die VF Plus sou groter belastingverligting wou sien omdat dit werklik die enigste manier is hoe ekonomiese groei kan plaasvind. Mense moet geld hê om te bestee en sodoende die ekonomie aan die gang te kry.
Aan die negatiewe kant is dit kommerwekkend dat die begrotingstekort steeds toeneem en die belastingtekort op R213 miljard geraam word. Geld moet geleen word om die tekort te oorbrug wat meebring dat lenings se finansieringskoste buite beheer raak.
Die staat se skuld gaan in die komende finansiële jaar tot nagenoeg R4.38 biljoen styg wat 82% van die Bruto Binnelandse Produk is.
Alhoewel uitgawes op elke wyse moontlik besnoei moet word, gebeur die teenoorgestelde soos blyk uit die deurlopende hulp aan mislukte staatsondernemings.
Die R6.1 miljard aan die gefaalde SAL en die R7 miljard aan Landbank is ‘n onaanvaarbare vermorsing van belastingbetalersgeld.
Die pleknaamsveranderinge van onder meer Port Elizabeth in die Oos-Kaap bring uitgawes van miljoene rande teweeg en is ‘n voorbeeld van verkeerde prioriteite.
Hierdie vermorste geld kon veel eerder aangewend word vir prioriteitsprojekte om die ekonomie te stimuleer, soos infrastruktuur-ontwikkeling.
Beleidsekerheid moet nou geskep word om beleggings te lok. Een van die groot negatiewe faktore wat Suid-Afrika se ekonomie aan bande lê, is die onsekerheid wat onteiening sonder vergoeding vir moontlike beleggers inhou.
Gefaalde ANC-beleid en striemende wetgewing moet afgeskaf word. Daarsonder sal groei nie kan plaasvind nie, al word daar ook hoeveel kosmetiese skuiwe gemaak.