fbpx
Vryheidsfront Plus

Bedanking van Simonstadse gemeenskapspolisiëringsforum wys hoe verlam polisie in Wes-Kaap is

Die VF Plus het met teleurstelling kennis geneem van die bedanking van al die lede van Simonstad se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).

Dit laat ernstige gevaarligte flikker oor die stand van die polisie in die Wes-Kaap.

Luidens mediaberigte het die bestuurslede van die forum tot dié drastiese stap oorgegaan aangesien dat die plaaslike polisiekantoor ‘n geruime tyd reeds nie oor die nodige hulpbronne beskik om sy mandaat uit te voer en misdaad te bestry nie.

Hierdie situasie bevestig die VF Plus se standpunt dat die polisiediens in die Wes-Kaap operasioneel geamputeer is.

Die tekorte kom voor by feitlik alle polisiekantore in die Wes-Kaap en wat by Simonstad gebeur het, is daarom geen verrassing nie.

Die bedanking van die GPF-lede stuur terselfdertyd ‘n duidelike boodskap aan die provinsiale kommissaris én die nasionale polisiebestuur oor die stand van die polisie.

Dit is dat lede van sodanige forums nie langer bereid is om hul gemeenskap te mislei deur voor te gee dat die polisie in staat is om die publiek te beskerm nie.

Hierdie tekorte aan polisielede benadeel die breë gemeenskap en bevoordeel slegs die bendes en misdadigers in die algemeen.

Dit behoort geen verrassing te wees dat die polisie se kwartaallikse misdaadstatistiek telkens ‘n verhoging toon nie.

Die VF Plus doen ‘n beroep op minister Bheki Cele en die nasionale kommissaris van polisie om dringend ingevolge hul onderskeie mandate in te gryp.

Min. Cele se uitsprake by begrafnisdienste van misdaadslagoffers waar groot beloftes van misdaadbestryding gemaak word, klink toenemend soos die brul van ‘n muis.

Dit is nou tyd dat die ANC-regering daadwerklike stappe neem en bewys dat die beveiliging van mense se lewe én hul eiendom ‘n prioriteit is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.