Die minister van verdediging, Thandi Modise, sal antwoorde moet gee oor waarom daar nog nie opgetree is teen soldate van die Suid-Afrikaanse weermag wat hulle moontlik aan ’n oorlogsmisdaad in Mosambiek skuldig gemaak het nie.
In ‘n gru-video wat tans op sosiale media die rondte doen, kan duidelik gesien word hoe Suid-Afrikaanse soldate teenwoordig is waar lyke op ’n brandende hoop gegooi word.
Die soldate kan uitgeken word aan die Suid-Afrikaanse weermag-uniform met die landsvlag daarop.
In ’n mediaverklaring wat pas uitgereik is, sê die weermag die voorval het moontlik in November 2022 in Mosambiek plaasgevind waar Suid-Afrikaanse soldate ontplooi is.
Die verklaring lui voorts dat die soldate “onbekend is” en dat die voorval ondersoek sal word.
Die minister sal moet vasstel waarom die voorval, wat vermoedelik maande gelede reeds plaasgevind het, nou eers onder die weermag se aandag kom nadat dit reeds wyd op sosiale media versprei is.
Alles dui daarop dat hierdie voorval ’n oortreding is van die Geneefse Konvensie wat op ’n oorlogsmisdaad neerkom.
Die regering en die weermag sal daarom vinnig teen die soldate moet optree om aan die internasionale gemeenskap te wys hulle het erns met die voorval.
Suid-Afrikaanse soldate is jare reeds deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se ingrypingsmag in Cabo Delgado in Mosambiek.
Daar sou aanvanklik sowat 1 495 soldate ontplooi word, maar luidens die media was daar teen April verlede jaar nog net 500 ontplooi.
Die soldate se teenwoordigheid in Mosambiek het Suid-Afrika se belastingbetalers net verlede jaar R2,8 miljard uit die sak gejaag.