Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Artikel 154-ingryping bevestig ANC-mislukking in Buffalo City

Die VF Plus verwelkom die Oos-Kaapse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) se besluit om ʼn artikel 154-ingryping in die Buffalo City-metro (Oos-Londen) in te stel ná ʼn spesiale raadsvergadering wat op 6 Augustus gehou is.

Dié ingryping van Cogta is weens die metro se aanhoudende wanadministrasie, finansiële wanbestuur en diensleweringskrisisse. Dit behels die aanstelling van ʼn tegniese span van dertien lede om bestuur te verbeter, finansies te stabiliseer en dienslewering te herstel oor ʼn tydperk van twaalf maande.

Hierdie ontwikkeling bevestig waaroor die VF Plus sedert 2021 deurlopend waarsku – dat die huidige ANC-geleide plaaslike regering sukkel om sy uitvoerende verpligtinge na te kom soos die Grondwet vereis.

Die VF Plus het tydens die raadsvergadering die LUR van Cogta, mnr. Zolile Williams, se afvaardiging direk aangespreek en verklaar dat die regerende party die kommer en waarskuwings wat opposisiepartye in die raad opper, konstant ignoreer.

Die ANC het op sy meerderheid staatgemaak om besluite sonder behoorlike toesig deur te dwing en dikwels geldige besware en voorstelle van die hand te wys. Dit het gelei tot ‘n verslegtende situasie, wat nou formele steun van die provinsiale sfeer vereis.

Terwyl die VF Plus die provinsiale regering se optrede steun, doen die party ook ‘n beroep op duidelike lewerbare doelwitte van die ondersteuningsspanne en amptenare wat ontplooi word om die munisipaliteit by te staan.

Die ingryping moet nie ‘n burokratiese formaliteit word nie. Dit moet lei tot meetbare verbeterings met deursigtigheid, sperdatums en gereelde vorderingsverslae aan die raad en die publiek.

Verder moet die ANC se uitvoerende leierskap, insluitend die burgemeester en die burgemeesterskomitee, politieke en morele verantwoordelikheid aanvaar vir die mislukkings wat hierdie ingryping genoodsaak het.

Dit behoort ‘n oomblik van besinning en ‘n waarskuwing te wees oor die gevolge van swak leierskap, wanbestuur en weiering om konstruktief betrokke te raak.

Die ingryping is ʼn verdere bewys dat die ANC nie meer geskik is om die Buffalo City-metro te regeer nie.

Die VF Plus bly verbind tot verantwoordelike bestuur, deursigtigheid en om in die beste belang van alle inwoners op te tree.

Die party sal voortgaan om hierdie ondersteuningsingryping noukeurig te monitor en werklike, blywende verbeterings te eis.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.