Die gebeure rondom die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) wys dat die ANC-regering minderhede en in die besonder Afrikaanssprekendes, nie ‘n eie identiteit gun nie.
Dit bevestig ook dat die ANC net lippediens lewer of glad nie verstaan wat die “verskeidenheid” in Suid-Afrika se nasionale leuse van “Eenheid in verskeidenheid” beteken nie.
Minister Nathi Mthethwa se standpunt ruim alle twyfel uit die weg oor wat die regering as transformasie beskou: 'n Instelling is eers getransformeer wanneer dit die totale bevolking weerspieël.
Indien dit van hom afhang, sal hy waarskynlik verkies dat sulke kultuur- of minderheidsgroepe geleidelik verdwyn en in die groter geheel geassimileer word. Iets wat nooit in Suid-Afrika sal gebeur nie.
Eenvoudig gestel; wanneer een kultuurgroep tien persent van die bevolking uitmaak, is hy nie geregtig op tien persent van die erfenisterreine in die land nie, maar dalk op tien persent van elke erfenisterrein.
Dieselfde geld skole, universiteite en elke ander gebied waar ‘n groep gestalte wil gee aan ‘n eie erfenis en kultuur.
Die direkteur-generaal vir sport, kuns en kultuur, mnr. Vusumuzi Mkhize, het onlangs sy eie vertolking van minister Mthethwa se planne gegee wat duidelik wys die ANC was straks nie die hewige reaksie teen die voorgestelde naamsverandering te wagte nie.
Volgens Mkhize gaan dit nie noodwendig om ‘n naamsverandering nie, maar dat “begrip” getoon sal word vir die behoefte tot inklusiwiteit en transformasie.
Daardie “begrip” behoort as't ware outomaties daartoe te lei dat die monument sy aard sal aanpas om alle tale wat in die Wes-Kaap gepraat word, in te sluit.
Dit baan sekerlik dan die weg vir ‘n toekomstige naamsverandering.
Wat die ANC hier demonstreer, is nie demokrasie nie, maar tirannie van die meerderheid en is presies hoe nasiebou nie bereik word nie.
Dit is ook tipies van ‘n falende staat, wat swak prestasie wil verdoesel deur onsinnige simboliese "verowerings" soos naamsveranderinge.
Die Afrikaanse Taalmonument is deur 'n taalgemeenskap opgerig wat diep onder die indruk van die wonder van die jong taal was en soos vandag, ‘n besondere liefde daarvoor gekoester het.
Afrikaans is vanweë sy oorsprong buitengewoon insluitend en die taalmonument gee reeds op ‘n baie oorspronklike wyse erkenning aan sy Afrika-, Oosterse- en Europese oorspronge.
Maar in die finale instansie is dit 'n monument vir Afrikaans, deur Afrikaanssprekendes vir Afrikaanssprekendes, wat onder beheer van dié gemeenskap, en nie die staat nie, hoort.
Terwyl die VF Plus as politieke party sy rol sal speel, moet die Afrikaanse Taalmonument nie tot 'n partypolitieke speelbal afgeblaas word nie.
Die monument behoort aan die Afrikaanse taalgemeenskap, met ‘n verdere besondere belang vir die Paarl waar hy setel.
'n Instelling bestaande uit die Afrikaanse Taalraad, Drakenstein-munisipaliteit en burgerlike organisasies behoort beheer oor die monument en museum te neem.
Die VF Plus kan beswaarlik glo dat die Afrikaanse gemeenskap afgunstig sal wees of uitgesluit sal voel wanneer ‘n ander groep uit liefde vir sy taal ‘n monument daarvoor oprig.
Die aanslag teen Afrikaans is ‘n deursigtige aanslag op die kultuur van die mense wat die taal praat en daarvoor lief is.
Dit het weinig te doen met die struktuur van klip en beton op die berg agter die Paarl.