Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC verskerp ekonomiese oorlog teen minderhede

Die ANC het met die wysigings aan die Wet op Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en gepaardgaande  nuwe SEB-kodes die ekonomiese oorlog teen minderhede, en veral wit mans, verskerp,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Dié wysigings, wat skokgolwe deur die sakewêreld stuur, word eerskomende Vrydag reeds van krag.

Adv. Alberts sê die kodes vereis nou onder meer dat ondernemings 40% bemagtig moet wees wat beteken dat baie bestaande ondernemings wat aan die vorige kodes se vereistes voldoen het, nou hul status sal verloor.

Hy sê die uitlatings van Xolani Qubeka, uitvoerende hoof van die Swart Besigheidsraad dat die 'oorlog' nie verby is nie en dat daar ook aandag gegee moet word aan die verandering van die regering se aankoopregulasies ten einde swart entrepreneurs te help, is veral kommerwekkend.

“Hierdie tipering van die stryd is tekenend van die werklike aard van SEB as 'n oorlog teen minderhede wat uiting vind in 'n de jure-, of gewettigde aanval op die ekonomiese regte van wittes, en ‘n de facto aanval op bruines.

“Die feit dat die kodes Vrydag reeds in werking sal tree en dat daar geen voorsiening gemaak is vir openbare insette nie, skep ‘n enorme probleem.

“Hierdie eensydige afdwinging van drakoniese reëls wat die ekonomie geweldige skade kan aandoen, is waarskynlik ongrondwetlik en die VF Plus gaan regsadvies hieroor inwin en sal die minister ook per brief versoek om wel die kodes vir publieke insette oop te stel.

“Die VF Plus gaan ook in die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheid die saak te berde bring en sal veral daarop aandring om te weet waarom die kodes nie aan die publiek voorgelê is ter insae en om insette te lewer nie,” sê adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts is die VF Plus steeds van mening dat SEB die ekonomie striem en dat dit in sy geheel ongrondwetlik is aangesien geen bewyse bestaan dat dit werk nie.

Die party gaan derhalwe binnekort 'n aksie van stapel laat loop waar die publiek sy misnoeë oor hierdie beleid aan die ANC bekend kan maak.

 

Adv. Anton Alberts

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.