“Jackie Selebi se inkopietog die naweek maak mediese parool ‘n klug en ondermyn die strafregstelsel in Suid-Afrika. Mediese parool word as ‘n politieke instrument gebruik om lojale ANC-ondersteuners tronkstraf te laat vryspring. Die boodskap is dat indien jy die regte politieke verbintenisse het, jy misdaad kan pleeg, en indien jy tronk toe gaan is dit net tydelik want daar sal ‘n skuiwergat wees om vroeg weens mediese redes op parool uitgelaat te word. Selebi is nou die derde geval, naas Schabir Schaik en Tony Yengeni, wat as ANC-lede spesiale voorkeur geniet met parool. Dit is in teenstelling met Clive Derby-Lewis wat werklik siek is en aan kanker ly, maar nie mediese parool ontvang nie. Dit is nog ‘n skandvlek op Korrektiewe Dienste se naam en maak mediese parool ‘n klug,” sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Korrektiewe Dienste.
“Dit is ook duidelik dat Selebi ‘n luukse lewe lei, dit terwyl hy die belastingbetalers R17,4 miljoen skuld weens sy regskostes. Hierdie skuld is lank uitstaande en moet met rente terugbetaal word deur Selebi. Indien hy dit nie kan betaal nie, moet hy insolvent verklaar word en beslag moet gelê word op sy bates,” het Groenewald gesê.
DR. PIETER GROENEWALD
Kontaknommers: 082 472 0189 / 083 627 4397