Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Stakingsprobleme soos by BMW Suid-Afrika sal EU en sy lidlande al hoe vêrder wegdryf van SA

Die vernietigende effek van stakings in onder meer die motorvervaardigingsektor, soos nou by BMW Suid-Afrika gesien, kan belangrike handelsvennote soos die Europese Unie (EU) al hoe verder van Suid-Afrika laat wegdryf, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Die verhouding tussen Suid-Afrika en die lidlande van die EU is reeds gespanne en Duitsland het onlangs hard en duidelik sy stem gevoeg by die EU se handelskommissaris, mnr. Karel de Gucht, wat skerp kritiek uitgespreek het teen die ANC-regering se beleid rakende bilaterale beleggingsooreenkomste met lidlande van die EU.

Adv. Alberts sê die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het nou ook sy kommer uitgespreek oor die hoë aantal stakings wat die land se ekonomie lamlê, en wat goed geïllustreer word deur die feit dat Suid-Afrika ondanks ‘n swak rand ook met sy uitvoer sukkel.

“Die ANC, wat sienderoë toelaat dat vakbonde die land se industrieë lamlê en beleggers verdryf, moet verantwoordelikheid neem vir die vernietigende effek wat stakings op die land se ekonomie het.

“Die ANC skep dan ook verdere onsekerheid oor eiendomsreg met beoogde wetgewing wat alle tipe eiendomsreg sal blootstel aan onteiening deur die staat.

“Verder is die ANC se strewe om Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) nog strenger te polisieer kommerwekkend, aangesien dit van die faktore is wat ekonomiese groei strem. Die Ouditeur-Generaal het juis aangedui dat kaderontplooiing, wat moontlik gemaak word deur RA, juis die rede is vir swak dienslewering deur die staat. Wat SEB betref is dit alom bekend dat geen navorsing bestaan dat die beleid enige goeie invloed het op die ekonomie nie en of swartmense werklik opgehef word nie.

“Daarom is die voortsetting van dié beleide irrasioneel en daarom ongrondwetlik, bo en behalwe die feit dat dit inbreuk maak op die reg van minderheidsgroepe om op gelyke voet ekonomies mee te ding.

“Die Demokratiese Alliansie se ondersteuning en omarming van die beleid is ook skrikwekkend aangesien gerekende internasionale organisasies toenemend  tot die debat toetree en pleit dat SEB vervang moet word met ‘n beleid wat aan almal in die land ‘n gelyke kans op ekonomiese welvaart sal bied.

“Rothschild, die konsultasiefirma wat self die eerste SEB-transaksies gefasiliteer het, is die jongste toevoeging tot lys van invloedryke organisasies wat hom openlik teen SEB uitgespreek het,” sê adv. Alberts.

 

Adv. Anton Alberts

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.