Op ‘n spesiale raadsvergadering van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit is ‘n peperduur reis vir die burgemeester en drie afgevaardigdes na China goedgekeur. Die reis kos die belastingbetaler R180 000 en is ten doel om ‘n beraad by te woon waar daar sogenaamde ekonomiese bande gesmee sal word. Die ANC het hierdie besluit deur gestoomroller ten spyte van die VF Plus se kwelvrae en teenstand in hierdie verband, sê Erns Kleynhans, VF Plus-raadslid in Matlosana.
Volgens Kleynhans kon die administrasie nie verduidelik wie die organisasie is wat die munisipaliteit na die beraad genooi het nie en kon hul ook nie besonderhede verskaf oor watter moontlike ekonomiese bande gesmee kan word nie. Daar is dus geen behoorlike verslag wat navorsing bevat oor die moontlike voordele wat hierdie besoek mag inhou nie.
“Terwyl Matlosana gebuk gaan onder finansiële tekorte, moet die prioriteite dienslewering en infrastruktuurontwikkeling wees. Die geld wat op hierdie besoek gemors word, moet eerder aangewend word om dienslewering te verbeter. Indien effektiewe dienslewering geskied en infrastruktuur ontwikkel en instandgehou word, sal die privaatsektor in Matlosana belê,” sê Kleynhans.
Kontakbesonderhede: 082 645 0537 / 079 409 8342