fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC se arrogansie oorskry sy intelligensie

Die ANC se arrogansie oorskry sy intelligensie, het Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, in die debat oor die departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Kleinsake-ondernemings, Toerisme en Omgewingsake gesê. Hy het die ANC gewaarsku dat die geskiedenis leer dat meerderheidsregerings altyd verneder word wanneer hulle arrogant raak.

Ekonomiese geleenthede verander as gevolg van etlike faktore. Die Vrystaat se ekonomieselandskap is drasties besig om te verander met myne wat die einde van hul produksieleeftyd bereik en landbou-metodes genoodsaak is om te verander.

Wessels het gesê dat die departement se hooffokus die uitbou en ontwikkeling van die Vrystaatse ekonomie moet wees, maar dat hulle nooit in die doel sal slaag met die huidige strategie van herverdeling nie.

Voldoende ondersteuning word nie aan klein-, medium- en mikro-ondernemings gegee nie. Die meerderheid van hierdie ondernemings misluk en miljoene rand gaan verlore. Die departement is veronderstel om behoorlike navorsing te doen en beleggers en kleinbesigheideienaars te adviseer om sodoende die ekonomie te stimuleer deur entrepreneurs te ondersteun en werkskepping te bevorder. Generiese besigheidsplanne en gebrekkige leiding en ondersteuning is net eenvoudig nie voldoende nie.

Hy het sy teleurstelling uitgespreek in die LUR, dr. Bennie Malakoane, en gesê dat die LUR se mooipraatjies en lippetaal nie kos op die tafel van duisende arm Vrystaters sal sit nie. Die probleem is nie meer apartheid nie, maar die regering se regressiewe ideologië.

Wessels het gewaarsku dat die ekonomie nie sal groei as korrupte amptenare en tenderpreneurs toegelaat word om die staatskas jaar na jaar te besteel nie. Strenger optrede teen hierdie misdadigers is dringend nodig.

Die departement moet sy prioriteite herevalueer en die belangrikste daarvan is die uitbou van die ekonomie, voor daar nie meer ‘n ekonomie is om uit te bou nie.

 

Kontakbesonderhede: 082 674 6670 / 072 997 8315

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.