Die ANC-regering het male sonder tal gewys hy is nie verantwoordbaar aan die mense van Suid-Afrika nie, en dit is duidelik uitgewys deur die Grondwethof in die Nkandla-sage, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.
Dr. Mulder het vandag met die parlementêre debat oor die aangeleentheid gesê die parlement in besonder is ‘n plek waar dit baie belangrik is om jou geloofwaardigheid te behou, aangesien dit baie moeilik sou wees om te herwin as dit eers verloor is.
Hy het gesê die publiek van Suid-Afrika het hul vertroue in die parlement verloor, en dit is bevestig deur die Grondwethof wat beslis het die parlement het sy plig versuim deur die regering nie tot verantwoording te roep oor die Openbare Beskermer (OB) se aanbevelings oor Nkandla nie.
“Die Grondwethof het so ver gegaan as om te sê alles wat die parlement gedoen het rakende die OB se aanbevelings was verkeerd. En die regering kan nie sê hulle het nie geweet nie. Hulle is keer op keer hier deur myself en ander gewaarsku dat hulle verkeerd optree.
“Ek het hier gestaan en aan die ANC gesê jy kan nie iets wat verkeerd is, reg stem nie. Maar daar is nie geluister nie en die verkeerde besluite is keer op keer met ‘n stemproses deurgestoomroller.
“Die regering het sy getalle-oorwig telkens op hierdie wyse misbruik, en het so alle geloofwaardigheid verloor. Dit is nie ‘n reg om te regeer nie, dis ‘n voorreg. En die ANC-regering het daardie voorreg verloor,” het dr. Mulder gesê.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403