Die ANC-regering misluk tans in sy hantering van die studente-protes omdat hy probeer om regering en aktivistiese bevrydingsbeweging tegelyk te wees. Om albei te wees, is ongelukkig nie moontlik nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Dr. Mulder sê ‘n voorbeeld hiervan is die uitlating gister (20 Oktober) van Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, waarin hy die polisie gekritiseer het deur te sê hulle moet nie rubberkoeëls tydens gewelddadige protesaksies teen studente gebruik nie.
“Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het ook die polisie ernstig gekritiseer oor die wyse waarop hulle rubberkoeëls gebruik. Dit is deursigtige pogings van die ANC om gewild by die betogende studente te probeer wees sonder om werklike oplossings vir die probleme te soek of om alternatiewe voorstelle te maak oor hoe die polisie die situasie moet hanteer.
“Dat die polisie beter in skarebeheer opgelei kan word, word nie betwyfel nie. Die gebruik van oormatige geweld word ook veroordeel.
“Tog is dit ‘n getuigskrif vir polisie-selfbeheersing dat die gewelddadigheid van die studenteprotes en die afbrand van geboue en biblioteke nog nie tot die dood van enige student gelei het nie. Min word geskryf oor hoe die studente krimineel optree en die polisie uittart.
“Wanneer die protes ‘n sekere vlak van gewelddadigheid en die vernietiging van eiendom bereik, is daar min ander metodes behalwe rubberkoeëls oor om die skare te beheer. Daarom is dit ook internasionaal ‘n erkende metode om hierdie vlak van geweld te hanteer.
“President Jacob Zuma het dieselfde gewildheidsrol probeer speel toe hy die “Fees Must Fall”-betogings as “tekens van ‘n gesonde demokrasie” beskryf het.
“Die afbrand van biblioteke en geboue asook die berekende beskadiging van motors kan nooit tekens van ‘n gesonde demokrasie wees nie. Al verduideliking vir die president se uitlatings sou wees dat hy die afgelope tyd te veel in die buiteland was, 75 dae in totaal, en daarom hierdie werklikhede van die huidige studentebetogings gemis het.
“Die ANC moet besluit of hy die land wil regeer en of hy ‘n populistiese bevrydingsbeweging wil wees. Dit geld ook universiteitsrektore wat uit die bevrydingstryd kom en nou nog steeds in daardie gees die huidige onredelike gewelddadigheid en kriminaliteit probeer hanteer.
“Na swak besluite deur onbevoegde ANC-politici en rektore word die polisie ingeroep om te handel met die gevolge daarvan. Dit is onbillik teenoor die polisie dat hulle na die tyd deur dieselfde politici en rektore wat hulle ingeroep het, gekritiseer word oor hulle optrede,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670