(Debat in parlement: Die immergroeiende krisis van oorgrensmisdaad, mislukking van immigrasiebestuur en die impak daarvan op gemeenskappe en die veiligheid en sekuriteit van die staat)
Die departement van binnelandse sake is nie in staat om Suid-Afrika se grense effektief te bewaak en onwettige immigrasie en oorgrens-smokkelary van goedere te voorkom nie.
Hierdie onbevoegdheid van die ANC faal Suid-Afrika op ʼn veel meer drastiese wyse as wat op die oog af lyk.
Dit verdra korrupsie en oneffektiwiteit, dit bevorder wanorde en agteruitgang, dit skep ʼn teelaarde vir misdaad, dit minag die regte van Suid-Afrikaners en speel ʼn fundamentele rol in die bevordering van ʼn mislukte staat.
Suid-Afrika is in werklikheid reeds ʼn mislukte staat wat weens swak beheer nie in staat is om sy grense te bewaak nie.
Die smokkel van gesteelde voertuie oor die Limpopo-rivier tussen Suid-Afrika en Zimbabwe het die afgelope paar jaar hand oor hand toegeneem.
Nasionale voertuigmisdaadsindikate is binne die Suid-Afrika/Zimbabwe-grenslyn in Limpopo bedrywig. Voertuie vanuit so ver as Kaapstad en KwaZulu-Natal word gesteel en oor die Limpopo-rivier na Zimbabwe gesmokkel.
Kommersiële plofstof wat in die kwynende mynbousektor in Zimbabwe gebruik word, vind sy weg na Suid-Afrika en word gewoonlik gebruik in transitorooftogte en om kitsbanke op te blaas.
Onwettige immigrasie plaas gemeenskappe en die staatskas ook onder geweldige druk. Die vraag na behuising is onversadigbaar en onwettige immigrante veroorsaak verdere druk.
Dit verhoog maatskaplike en politieke spanning, oorbevolking en plaas druk op ʼn reeds sukkelende openbare gesondheidsorgstelsel.
Suid-Afrika is volgens die Global Peace Index die tiende mees onveilige plek ter wêreld.
Hierdie indeks skat dat geweldsmisdaad soveel as 19% van die land se BBP vermors. Sowat $76 miljard of R144 miljard per jaar moet bestee word net om geweld in bedwang te hou.
Die ANC-regering faal klaaglik in sy plig om Suid-Afrikaanse grense en burgers te beskerm. Dit maak hom medepligtig aan oorgrensmisdade en onwettige immigrasie en bedreig staatsveiligheid.
Die enigste manier om wet en orde te herstel, is om van die ANC-regering ontslae te raak.


