Die ANC-regering in Mpumalanga het vanoggend weereens ‘n versoek van die VF Plus om leefstyloudits op provinsiale en munisipale staatsamptenare uit te voer in die plaaslike wetgewer geweier.
Die mosie het gevolg nadat die burgemeester van die Nkomazi-plaaslike munisipaliteit (Komatipoort, Malalane, Marloth Park), me. Phindile Magagula, daarvan beskuldig is dat sy na bewering ‘n begunstigde is van onwettig gekoppelde elektrisiteit by een van haar huise in die Aniva-woonbuurt.
Dit is teenstrydig met vorige beloftes van die premier, me. Refilwe Mtsweni-Tsipane. Sy het voorheen onderneem om hierdie oudits en ander ondersoeke na amptenare en politici in die provinsie te doen in ‘n daadwerklike poging om korrupsie uit te wis.
ʼn Opposisieparty het na bewering reeds twee strafregtelike klagte teen me. Magagula ingedien.
Dit is ‘n tragiese wending wanneer inwoners van haar munisipaliteit gedwing word om sonder elektrisiteit te gaan terwyl sy oënskynlik onwettige aktiwiteite goedpraat. Die burgemeester moet aan die voorpunt wees om onwettige verbindings te bekamp.
Hierdie voorval onderstreep die VF Plus se voortdurende vraag na leefstyloudits op alle provinsiale en munisipale openbare figure.
Dit moet gedoen word as deel van ‘n hernude poging om korrupsie uit te roei.
Sulke oudits sal enige onreëlmatighede blootlê en voorkom dat die onderskeie munisipaliteite nog dieper in finansiële chaos wegsink.
Hierdie oudits moet eers uitgevoer word op die uitvoerende amptenare van munisipaliteite wat die diepste in die skuld is.
Sodoende kan die individue wat verantwoordelik is vir die totale verval van die munisipaliteite aan die kaak gestel word.
Inwoners van Mpumalanga moet met die komende verkiesing die ANC straf by die stembus.
Mpumalanga verdien beter as die ANC.