Die VF Plus se voorspelling dat die ANC nie net witmense sal benadeel met sy beleid nie, word nou bewaarheid deur die voorstel van die pro-Zuma-faksie van die ANC in KwaZulu/Natal dat Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) slegs etniese swartmense moet bevoordeel, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts sê hierdie skuif is in lyn met die ANC se werklike langtermyn-oogmerke om ‘n staat te bou waar net etniese swartmense die politieke en ekonomiese mag moet hê en alle ander mense tot die rand van die samelewing gerangeer word.
“Die feit dat sulke skuiwe ongrondwetlik sou wees, pla die ANC geensins nie en dit is ook ‘n aanduiding dat die ANC onder die Zuma-faksie hom reeds posisioneer om mag te gryp ongeag die wetlikheid daarvan.
“Hierdie is die optrede van ‘n desperate organisasie met desperate leiers wat nou in krisistye terugval op wat werklik in hul harte aangaan en wat vir jare versteek was onder die polities-korrekte mantel van menseregte, maatskaplike geregtigheid en ekonomiese regstellende aksie.
“Die VF Plus sal hierdie stappe van die ANC aan die groot klok hang by die volgende minderhede-konferensie van die Verenigde Nasies (VN) aan die einde van die jaar,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216