fbpx
Vryheidsfront Plus

Kabinetskommeling hoofsaaklik wraak teen SAKP

Pres. Jacob Zuma se kabinetskommeling vandag is hoofsaaklik om wraak te neem teen die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) deur van dr. Blade Nzimande as minister onslae te raak, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê dit is bekend dat die SAKP baie krities teenoor pres. Zuma staan, en dit het tot hierdie stap gelei.

Wat die skuif van David Mahlobo, voormalige minister van staatsveiligheid na die portefeulje van energie aanbetref, sê dr. Groenewald dit is duidelik dat Mahlobo geskuif is in ‘n poging om steeds die kernkragplan en beloftes aan die Russiese leier, Vladimer Putin, deur te voer.

“Hierdie kan gesien word as ‘n desperate skuif aangesien dit bekend is dat Mahlobo ‘n slaafse navolger van pres. Zuma is en sy opdragte sal uitvoer.

“Die minister van finansies het gister nog gesê Suid-Afrika het nie die geldelike vermoë om die kernkragplan deur te voer nie, maar dit is duidelik dat die president hierdie boodskap nie kry nie.

“Die nuwe minister van staatsveiligheid, Bongani Bongo, is daar geplaas om seker te maak pres. Zuma hou steeds beheer oor dié agentskap en ander instelling om homself te beskerm, en om seker te maak hulle kan aangewend word tot die voordeel van die Zuma-faksie vir die 2019-verkiesing.

“Bongo is eintlik ‘n agterbanker wat eers in 2014 parlement toe gekom het en hy is ‘n onervare politikus. Tot dusver het die ANC hom hoofsaaklik aangewend vir parlementêre ad hoc-komitees soos vir die aanwys van die huidige Openbare Beskermer (OB) en nou weer vir die komitee gemoeid met die befondsing van politieke partye.

“Hy kom van Mpumalanga en dit wil voorkom of die president met sy skuif invloed probeer kry op die provinsie wat op een ná die meeste afgevaardigdes na die ANC se verkiesingskonferensie in Desember gaan stuur.

“Vandag se skommeling beteken ook nie dat pres. Zuma nie steeds voor Desember verdere skuiwe kan maak om plek te maak vir Nkosazana Dlamini-Zuma en om die huidige adjunk-president, Cyril Ramaphosa, met haar te vervang nie,” sê dr. Groenewald.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.