Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC dink verlof is ‘n straf vir oortredings

Die ANC se wanbestuur en kaderontplooiing het weereens gesorg vir ‘n nuwe skandaal in een van die Vrystaat se munisipaliteite, hierdie keer in die Xhariep-distriksmunisipaliteit wat in Trompsburg gesetel is en die plaaslike munisipaliteite van Letsemeng, Kopanong, Mohokare en Naledi insluit.

Die munisipale bestuurder is volgens die burgemeester op spesiale verlof geplaas nadat hy onregmatig nagenoeg R300 000 addisioneel tot sy salaris in een maand aan homself uitbetaal het. Die burgemeester het dit gedurende ‘n verskyning van die munisipaliteit voor die openbare rekeninge-komitee van die Vrystaatse Wetgewer in Philippolis aan die komitee meegedeel.

Wouter Wessels, VF Plus-LPW, het na afloop van die verskyning gesê dat die Xhariep-distriksmunisipaliteit se bestuur en finansies in ‘n jammerlike toestand is.

Volgens Wessels is dit onaanvaarbaar dat die munisipale bestuurder slegs op spesiale verlof geplaas is en nie geskors is hangende 'n dissiplinêre verhoor nie. Die tekort aan gevolge vir oortredings is die oorsaak vir die wanfunksionaliteit van die distriksmunisipaliteit.

“Ongemagtigde, onreëlmatige en vrugtelose en verkwiste uitgawes word nie ondersoek nie en geen amptenaar word hiervoor aanspreeklik gehou nie.

“Een van die belangrikste komitees van ‘n munisipaliteit is die munisipale openbare rekeninge-komitee. Dit is ‘n skande dat hierdie munisipaliteit se openbare rekeninge-komitee nog nie eers funksioneel is nie en nog geen vergaderings sedert Augustus 2016 gehou het nie,” het Wessels gesê.

Wessels het gedurende die verskyning vir die burgemeester en die munisipaliteit se afvaardiging gesê dat Xhariep die armste munisipale streek in die Vrystaat is en dat hulle reeds finansiële steun van provinsiale regering ontvang, maar dat hulle salarisrekening ‘n allemintige 80% van hulle begroting bedra.

Hy het ook vir die burgemeester gesê dat die munisipaliteit sy grondwetlike plig om na behore na die belange van die mense van Xhariep om te sien in geheel verontagsaam het en nie die plaaslike munisipaliteite in die distrik ondersteun nie.

“Die ANC se onderrok hang uit. Hulle onvermoë, kaderontplooiing, gierigheid en selfdienende neigings is besig om hulle in te haal en dit sal in chaos vir die regerende party eindig,” het Wessels bygevoeg.

 

Kontakbesonderhede: 082 674 6670

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.