fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC bewys onguns aan vuurwapen-eienaars

Die ANC het vuurwapen-eienaars vandag ‘n groot onguns bewys deur in die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie te stem teen ‘n voorgestelde wysiging aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens wat aan vuurwapen-eienaars, wat nie hul lisensies betyds hernu het nie, die geleentheid sou bied om dit wel te doen.

Daar was aanvanklik ‘n gelykop-uitslag met die stemming en die voorsiter van die komitee, mnr. Francois Beukman, moes ‘n beslissende stem uitbring. Hy het saam met die ANC gestem en sodoende is ‘n gulde geleentheid verbeur om sekerheid te bring aan duisende vuurwapen-eienaars.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die privaatlid-wysigingswetsontwerp ingedien na die grondwethof-uitspraak in die hofsaak van SA Jagters en Wildbewaringsereniging oor die posisie van Artikel 24 en 28 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens. Die uitspraak het bepaal dat lisensies wat nie betyds hernu is nie die vuurwapens onwettig verklaar het.

Dr. Groenewald wou met die wysigingswetsontwerp toesien dat die meer as 400 000 vuurwapens wat tans ongelisensieerd is, in die besit van hul eienaars bly om die eienaars sodoende die geleentheid te bied om van nuuts af vir die hernuwing van die lisensies aansoek te doen.

Met hierdie voorstel sou vuurwapen-eienaars hul wapens kon behou en deur ‘n administratiewe fooi te betaal weens die laat aansoek om hernuwing, voorkom het dat hulle onwettig in besit is van ‘n vuurwapen.

Daar is tans ‘n hofinterdik wat verkry is deur GOSA (Gun Owners of South Arica) wat wel bepaal dat die polisie nie eienaars in hegtenis kan neem of vereis dat die wapens ingehandig word indien die lisensie verval het nie.

Dit bring egter nie ‘n oplossing in terme van herlisensiëring nie aangesien daar nou gewag word dat die hofaansoek afgehandel moet word.

In die komitee het selfs die ANC-lede saamgestem dat die privaatlid-wetsontwerp van dr. Groenewald wel die probleem aanspreek en dat die voorgestelde oplossing in die wetsontwerp meriete het. Ten spyte daarvan het hulle steeds teen die wenslikheid daarvan gestem.

Die ANC se argument is dat dit gelyktydig kan loop met die polisie se proses van ‘n nuwe wysigings-wetsontwerp deur die ministerie. Die probleem is egter dat hierdie proses lank gaan duur en na die VF Plus se mening sal dit teen die einde van 2019 steeds nie voltooi wees nie.

Die implikasie hiervan is dat daar na die verkiesing nuwe lede op die polisiekomitee gaan wees wat nie werklik die omvang van die vuurwapenkrisis sal verstaan en ‘n behoorlike, ingeligte besluit sal kan neem nie.

Dit is jammer dat die voorsitter van die komitee sy beslissende stem gebruik het om vuurwapen-eienaars ‘n onguns te bewys.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.