Dit blyk uit ʼn ondersoek dat die ANC-beheerde Dawid Kruiper-plaaslike munisipaliteit onregmatig landbougrond as residensieel gehersoneer het en dat talle inwoners in die Upington-omgewing uit die bloute aangeslaan is met uitermatige hoё eiendomsbelasting.
Die VF Plus het verskeie klagtes van inwoners ontvang dat hul munisipale rekeninge skielik munisipale skuld van duisende rande toon. By navraag is hulle ingelig dat hul landbou-eiendomme voortaan residensiële eiendomsbelasting moet betaal. In sommige gevalle selfs terugwerkend.
Die munisipaliteit het dié besluit eensydig geneem op grond van amptenare se waarneming dat bewoners nie landbou op die grond beoefen nie. Daar was ook geen oorlegpleging met die eienaars van die eiendomme nie.
Munisipaliteite is volgens wet geregtig om eiendomsbelasting te hef. Daarvoor moet elke munisipaliteit ʼn tariefbeleid saamstel met verwysing na die verskillende tipe eiendom. Die munisipale raad moet dan die tariefbeleid aanvaar.
In Dawid Kruiper se geval maak die beleid voorsiening dat indien meer as 60% van landbougrond vir residensiële doeleindes benut word, die eiendomsbelasting dienooreenkomstig aangepas kan word.
Daar moet egter eers ʼn proses gevolg word waarvolgens die eienaar van die voorgenome hersonering in kennis gestel word. Dit moet ook die eienaar ʼn geleentheid bied om appèl aan te teken.
Indien die hersonering gehandhaaf word, mag die verhoogde eiendomsbelasting nie terugwerkend ingestel word nie.
Die meeste inwoners wat die VF Plus gekontak het, het wel ʼn woning op die eiendom, maar dit beslaan nie meer as 60% van die grond nie.
Die optrede van die munisipaliteit kom neer op boeliegedrag teenoor inwoners wat op landbougrond woon.
Die munisipaliteit lewer boonop min of geen dienste aan hierdie gebiede nie. Inwoners is self verantwoordelik vir die uitpomp van septiese tenks en daar is geen teerpaaie of straatligte nie.
Die VF Plus het ‘n regsmening oor die aangeleentheid ingewin waaruit dit blyk dat die munisipaliteit onregmatig optree.
Hierdie regsmening is aan die munisipale bestuurder, Dr. Elias Ntoba, die hoof finansiële beampte, mnr Ruaan Strauss asook die speaker, me. Melanie Dodds gestuur.
Die VF Plus het ook geëis dat die onregmatige eiendomsbelastingverhogings onmiddellik teruggetrek word en die nodige regstellings op die inwoners se munisipale rekening aan te bring.


