Die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM) se begroting vir die 2023/24-finansiële jaar het ʼn skoon rekord van nasionale tesourie ontvang en al die politieke party in die raad was ten gunste van die begroting.
Die goedgekeurde begroting is deur die NMBM se vorige koalisieregering, waarvan die VF Plus deel was, opgestel.
Die laaste keer wat alle politieke partye ten gunste van die NMBM se begroting gestem het, was in 2013.
Die bedryfsbegroting is R17,2 miljard en die kapitaalbegroting is R1,9 miljard, met die kontanthouding tans op R4,8 miljard. Dit sal afneem tot R3,5 miljard in die 2025/26-boekjaar.
Selwyn Thys, finansiële hoof, het gesê die vermindering van die munisipale bedryfsuitgawes is ‘n deurslaggewende saak wat aangespreek moet word.
Die VF Plus ondersteun dié standpunt dat die metro oor die volgende drie jaar moet konsentreer op ʼn surplusbegroting.
Dit is van kritieke belang om die metro se verouderde infrastruktuur te vervang. Dit gaan egter ʼn kontantinspuiting vereis om dit te bespoedig.
Die begroting is gegrond op ʼn 80%-invorderingskoers en dit is van die grootste belang om dié koers te handhaaf om die begroting ten volle te befonds. Die invorderingskoers vir Mei was 83%.
Die VF Plus is bekommerd daaroor dat die ANC/EFF-koalisie nie, soos in sy vorige tydperk in beheer van die metro, oortydbetaling aan sekuriteitswagte gaan inperk en beheer nie.
Dit gaan ʼn ekstra las op belastingbetalers plaas alhoewel kritieke infrastruktuur steeds daagliks beskadig of vernietig word.
Die VF Plus sal sy waghondrol aanhou vervul en toesien dat die ANC-EFF-koalisieregering dienslewering dryf soos uiteengesit in die begroting.