Die VF Plus neem met skok kennis van die afsterwe van ‘n hawelose man buite die Tshwane-distrikshospitaal omdat hy glo te ‘vuil’ was om te behandel nadat hy by die hospitaal aangeklop het om hulp.
Die ANC-regering maak ‘n groot ophef daarvan dat hy die openbare gesondheidsdienste tot ‘n vlak wil verhef waar almal in die land goeie gesondheidsorg sal kry en daar is sprake van ‘n beplande nasionale gesondheidsversekering waarby privaat-hospitale en mediese fondse betrek gaan word.
Die gevaar wat dit bring, is dat die regering die vlak van dienste nie sal ophef nie, maar eerder sal laat val tot op die vlak soos wat die hawelose man beleef het. Dié voorval dien as bewys dat die ANC se onderneming om om te sien na die armstes in die samelewing, net leë woorde is.
Die VF Plus het juis gister in sy repliek op premier David Makhura se provinsiale rede gewys op die noodsaak van ‘n ombudsman vir gesondheidsorg in die provinsie waar swak dienslewering gerapporteer kan word. Die persoon moet magte en bevoegdhede hê om regstellend te kan optree.
Hierdie voorval plaas opnuut die fokus op die swak openbare mediese diens regdeur die land en veral by groot hospitale waar skokkende voorvalle van swak behandeling goed gedokumenteer is. Mense sterf onnodig en toestande is meermale haglik sonder beddens, komberse of medisyne.
Die regering droom van superstede terwyl hy nie in staat is om die basiese dienste te lewer nie. Enige gesentraliseerde mediese diens wat daarom deur die staat gelewer sal word, sal ‘n ramp wees vir die mense van Suid-Afrika.
Die VF Plus sal hierdie voorval opvolg en toesien dat die betrokke LUR daaraan aandag gee. Die party sal sorg dat die ANC verantwoordbaar gehou word vir sy onverantwoordelike optrede wat mense se lewens goedkoop gemaak het in dié provisie en elders in die land.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216