‘n Uitgestelde geskeduleerde vergadering van die Sol-Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley) bring nou mee dat ‘n artikel 106-ondersoek na wanadministrasie in die munisipaliteit eers oor 'n maand ter tafel gelê kan word en dat die stad nog 'n hele maand sonder 'n burgemeester, 'n munisipale bestuurder en hoof finansiële beampte moet voortgaan.
Raadslede van die munisipaliteit het dié eienaardige verrassing ontvang toe hulle laat gistermiddag (Dinsdag) in kennis gestel is dat die geskeduleerde raadsvergadering tot 31 Oktober uitgestel is. Dit is op versoek van die speaker "om veiligheidsredes" gedoen.
Dit kom nadat ‘n spesiale raadsvergadering verlede maand (28 September) waartydens 'n nuwe burgemeester aangewys moes word, vroeg verdaag is toe 'n oproerige skare op die openbare galery die vergadering ontwrig het.
Die speaker kon sekuriteitspersoneel gevra het om oproeriges te verwyder, maar het verkies om dit nie te doen nie.
Dit het gebeur nadat twee raadslede uit die ANC vir die pos van burgemeester benoem is. Daar was toe reeds gerugte dat die chaos georkestreer is om 'n moontlike nederlaag deur die ANC se meerderheidskandidaat te voorkom. ANC-rebelle en die opposisie sou moontlik 'n meerderheid vir die alternatiewe kandidaat kon verwerf.
Kiesers wat na hierdie gebeure steeds vir die ANC stem, sal slegs hulself kan verwyt vir die mislukkings van ANC-regering op nasionale- en plaaslike vlak.
Kontaknommer: 074 166 5540