fbpx
Vryheidsfront Plus

Regering draai geldkraan toe vir Kaapse Filharmoniese Orkes

Die note van die Laaste Taptoe kan moontlik eersdaags vir die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO) weerklink met die nuus dat die departement van kuns en kultuur sy geldkraan amptelik vir die oudste filharmoniese orkes in Suid-Afrika toegedraai het.

In antwoord op ‘n geskrewe vraag van die VF Plus oor die aangeleentheid, het die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, geantwoord dat die orkes reeds ingelig is dat hy nie meer befonds gaan word nie aangesien die departement se beskikbare fondse oor die totale kunsspektrum van die land versprei moet word.

Uit die antwoord blyk dit egter duidelik dat die ware rede waarskynlik rasgedrewe is. Die minister sê onder meer dit is van “kritieke belang” dat (klassieke) orkeste die demografie van Suid-Afrika moet weerspieël sodat “alle Suid-Afrikaners” hulle kan aanvaar en steun.

“Dié steun sal net kom wanneer mense ‘n gewaarwording van eienaarskap (van die orkeste) kry,” lui die minister se antwoord.

In ‘n onlangse verklaring oor die aangeleentheid het die KFO ontken dat hulle enigiets van die departement gehoor het, en het tewens gesê die department swyg “soos die graf” oor die KFO se navrae oor die verwagte en broodnodige skenking van R7 miljoen.

Luidens die KFO se verklaring is sy begroting tans sowat R30 miljoen per jaar waarvan die meeste op eie stoom gegenereer word.

Ironies genoeg word sowat ‘n derde van dié begroting, sowat R10 miljoen, aangewend om jeugdiges van veral swart woongebiede om Kaapstad aan klassieke musiek bloot te stel deur opheffingsprogramme waar die orkes al sy hulpbronne beskikbaar stel om jeugdiges op te lei.

In antwoord op ‘n afsonderlike skriftelike aan die minister vraag vroeër vanjaar oor skenkings aan kunsfeeste in die algemeen sedert 2014, blyk dit dat die klem vir skenkings hoofsaaklik op feeste met ‘n Afrika-tema val. ‘n Totale bedrag van R133 miljoen is in dié tyd aan kunsfeeste geskenk.

Skenkings aan feeste met ‘n jazz- en reggae-inslag is ruim. Die Cape Town International Jazz Festival het sedert 2014 meer as R40 miljoen ontvang, Joy of Jazz meer as R16 miljoen, Indoni Youth Empowerment R38 miljoen, Macufe Arts Festival R12 miljoen, Moshito R15,5 miljoen en Mbokodo Awards R15 miljoen.

Die VF Plus steun die ontwikkeling van alle soorte kuns en musiek. Dit is nogtans bereurenswaardig dat een kunsvorm aan ‘n ander ondergeskik gestel word en dat dié klassieke vorm van die skone kuns nie meer vir die huidige regering ‘n prioriteit is nie.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.