Die VF Plus vind dit onrusbarend dat skaars nadat die Grondwethof beslis het die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto) is wel grondwetlik, daar al hoe meer getuienis na vore kom wat aandui dat die stelsel uit ʼn warboel van kortsluitings bestaan.
Dit benadeel motoriste gegewe die wyse waarop die Padverkeeroortredings-agentskap (RTIA) die stelsel bestuur.
Die party het toegang gekry tot inligting van oortredings waarvan die eerste kennisgewing baie lank na die oortredingsdatum eers uitgereik is. Volgens die Aarto-regulasies en soos bevestig in die Fines4U-hofuitspraak van 2014, moet ʼn kennisgewing per geregistreerde pos aan die oortreder binne 40 dae uitgereik word.
Die een stuk getuienis tot die VF Plus se beskikking in die vorm van ʼn foto van die eNatis-stelsel, dui aan dat die betrokke oortreding op 23 Maart 2021 plaasgevind het en die kennisgewing is eers gelewer op 7 November 2021, meer as sewe maande nadat die oortreding begaan is. (Foto hierby aangeheg)
Dit is onverstaanbaar dat die oortreding steeds op die eNatis-stelsel vertoon word, aangesien dit tegnies onwettig is om verder daarmee te handel. Hierdie oortreding moes eenvoudig outomaties van die stelsel verwyder gewees het, weens die RTIA se nienakoming van Aarto-regulasies en die hofuitspraak waaraan hy gebonde is.
Om sake te vererger is hierdie oortreding intussen ʼn afdwingingsbevel gemaak wat effektief ʼn blok kan plaas op die betrokke persoon se vermoë om enige lisensies uit te neem of te hernuwe, terwyl die proses in wese defektief en onwettig is.
Voeg daarby die onvermoë van die poskantoor om die verwagte honderd miljoene kennisgewings van meer as 2 000 plaaslike regerings af te lewer, wat op sy beurt daartoe sal lei dat talle motoriste nie eens sal weet van enige oortredinge nie. Die wat enige vertoë sou wou lewer, sal nooit die kans kry nie.
Hierdie voorbeeld gee ʼn tasbare aanduiding van hoe die publiek benadeel word onder Aarto deur die RTIA wat nie sy eie statutêre verpligtinge nakom nie. Trouens, wanneer Aarto ten volle geïmplementeer word, kan bestuurders uiteindelik hul lisensie verloor ongeag die feit dat die oortredinge nie meer geldig sou wees nie.
Die VF Plus beskou hierdie misbruike as ernstig en die party sal die publiek bystaan wat probleme ervaar met Aarto. Enige probleme in die verband kan aangemeld word by die volgende e-pos adres: neels@vfplus.org.za.
Die VF Plus werk ook tans saam met Fines4U om ʼn klag by die openbare beskermer (OB) in te dien om ʼn ondersoek en oudit te doen na alle oortredings in die stelsel om vas te stel hoe omvangryk die probleem van onwettige oortredinge wat steeds bereg word, werklik is.
Die VF Plus beskou in wese Aarto as onuitvoerbaar onder ʼn ANC-regering. Daar gaan waarskynlik talle hofsake ontstaan totdat die RTIA sy huis in orde kry.
Uiteindelik sal Aarto net landswyd kan slaag en die paaie werklik veiliger gemaak word indien ʼn koalisieregering, waarvan die VF Plus deel is, die nasionale verkiesing in 2024 wen.