Indien die Onteieningswetsontwerp finaal goedgekeur word, sal dit Suid-Afrika se ekonomie vernietig en stabiliteit in die land ernstig benadeel.
Die wetsontwerp is in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) goedgekeur en moet nou terug na die Nasionale Vergadering (NV) gaan om wysigings van die NRP goed te keur voordat president Cyril Ramaphosa dit finaal kan afteken.
In hierdie stadium is dit duidelik dat die ANC alles moontlik sal doen en sy getalle sal gebruik om die wetsontwerp voor die verkiesing deur te stoomroller.
Een van die belangrikste hoekstene van ʼn vryemark-ekonomiese stelsel is die reg op private grond- en eiendomsbesit. Hierdie wetsontwerp is niks anders nie as onteiening sonder vergoeding en bring alle eiendomsbesit in die gedrang.
Die wetsontwerp maak dit duidelik dat roerende sowel as onroerende eiendom soos intellektuele eiendomsbesit geraak word.
Dit beteken dat niemand in Suid-Afrika meer kan aanspraak maak op die alleen-eienaarskap van sy of haar besittings nie aangesien die staat op ʼn diktatoriale wyse enige besitting kan onteien na goeddunke.
Die VF Plus beskou onteiening sonder vergoeding as ongrondwetlik en sal hierdie saak tot in die Grondwethof saam met ander organisasies en politieke partye beveg wat so sterk soos die VF Plus daaroor voel.
In belang van almal in Suid-Afrika mag daar nie toegelaat word dat die wet goedgekeur word nie. Die VF Plus het van die begin af ten sterkste beswaar aangeteken teen enige poging van onteiening sonder vergoeding.
Almal in Suid-Afrika en in enige demokratiese bestel het die reg om eiendom te besit en die staat het geen reg om dit eensydig af te neem nie.